Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Almal dra mos maar ’n boggel

Wanneer tragedies toeslaan, is daar altyd hope raadgewers en beterweters.

Soos ons baie onlangs beleef het – Donald Trump het mos altyd ’n eiertjie te lê.

Gee toe sommer uit die Nuwe Wêreld sy eweknie in die “Awendland” hierdie raad: “So horrible to watch the massive fire at Notre-Dame Cathedral in Paris. Perhaps flying water tankers could be used to put it out. Must act quickly.”

Kenners het egter geweet dat Trump se raad ’n groter katastrofe tot gevolg sou hê: Die dak sou ineenstort, gas sou nie kon ontsnap nie en die katedraal sou verder uitgebrand het.

Onwillekeurig het dit my laat dink aan die grappie oor die Amerikaanse toerismepaartjie wat die tipiese “spring van een Europese stad na die ander”-toer gedoen het. By die Notre-Dame aangekom, het hulle net tien minute tot hul beskikking gehad. Die man het voorgestel: “You do the inside and I’ll do the outside.”

Omstreeks 1830 het Victor Hugo se roman, The Hunchback of Notre-Dame, verskyn. Hy wou mense bewus maak van die waarde van Gotiese katedrale, juis omdat die gebrandskilderde vensters ’n paar jaar vantevore met glasvensters vervang is.

Hugo vertel die verhaal van die boggelrug Quasimodo, verweef met lang beskrywings van die argitektuur van hierdie indrukwekkende Gotiese katedraal van die twaalfde eeu.

Die Maandag voor Goeie Vrydag het alles in en om die Dame van Parys egter stikdonker geword.

Twee gemeentes in Suid-Afrika het eweneens gedurende die weke wat die Pase voorafgegaan het, donker tye beleef: Redelinghuys aan die Weskus se eeu oue kerk het afgebrand en die kerkgebou van die gemeente Wesmoot in Booysens, Pretoria, is geplunder.

Gebrandskilderde vensters is met klippe stukkend gegooi.

Onder die afdak, waar ’n erediens noodgedwonge gehou is, het die predikant die mense versoek om “soos Jesus te vergewe”.

Wanneer ’n mens dink dit kan nie erger word nie, hoor jy op Goeie Vrydag dat die mure van ’n kerkgebou in Dlangubo, in die noorde van KwaZulu-Natal, ineengestort het.

Dertien kerkgangers het gesterf en nog sestien is beseer.

Hier aan die suidpunt van die eertydse Donker Afrika voel ’n mens asof jy in trane kan uitbars. Jy wil weer kind word en huil oor Quasimodo, die boggelrug, wat jy in die 1996-animasiefilm van Walt Disney leer ken het.

Terwyl nie net kerke nie, maar rubberbande, geboue, skole en boeke hierdie lydenstyd in ons mooi land brand, wil ’n mens met eerbied uitroep: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Ten slotte besef jy dat daar in elkeen van ons “ ’n armoede skuil”, soos Dirk Opperman dit gestel het “...en uiteindelik moet ek tussen ander weet dat op aarde elke mens sy boggel het.”

Paasfees is nou afgegradeer tot eet en drink – kerrievis, Paasbolletjies en haaseiers – terwyl spesiale aanbiedings iets spesiaals van hierdie tyd moet maak.

Notre Dame; ons heilige dame; die heilige Maria.

’n Baie jong Elisabeth Eybers het iets van die betekenis van hierdie Christelike fees begryp en gevra of die “nooi uit Nasaret” enigsins besef het wat vir die Christuskind voorgelê het?

Dit laat jou wonder hoeveel mense van die Eerste, Tweede en Derde Wêreld het die afgelope Paasnaweek in die gloed van die vuur “die boodskap” nog enigsins goed verstaan?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.