Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Almal het ’n vleisprys

As daar nou een ding is wat ek nog nooit kon kleinkry nie, is dit die beheptheid oor die eet van mensvleis.

Mense sal mekaar vermoor, vergiftig, verpletter, huis en haard verwoes, besteel, opkap en aan vleishake ophang soos diere in ’n abattoir . . . maar om die een of ander rede weier om mekaar se vleis te eet.

Al is dit ook net vir ’n veran­dering van spyse, bly ander mense se vleis verbode vrugte.

Dis glo nie so dat mensvleis die een of ander weersin­wek­kende smaak het nie. Waag­moediges wat al ’n mensribbetjie of boudtjoppie op die kole gesit het, rapporteer dat dit ’n bietjie soos varkvleis smaak. Sommige Fidjiane noem dit “long pig” en die Karibe (cannibales) wat Columbus in die Karibiese eilande raakgeloop het, het hulle oënskynlik verlustig aan die “steaks” wat hulle uit die kar­kasse van hul stamvyande kon kap. Hulle het blykbaar, soos die heks in Hansie en Grietjie, hul gevange vyande goed vetgevoer voordat die feestelikhede op dreef gekom het.

Die klomp Uruguaanse rugbyspelers wat in 1972 op ’n vlug in die Andes neergestort het, het toe die honger en oor­lewingsangs hulle ná ’n paar weke in die sneeu goed beetpak, van die gestorwe passasiers eers op die carpaccio-manier verslind, maar later op die kole gepak. Vir hulle, is berig, was gaar mensvleis ononderskeibaar van beesvleis en boonop nog ’n bietjie sagter ook. En kyk, as Suid-Amerikaners nou een ding ken, dan is dit beesvleis.

Hoogaangeskrewe literêre figure soos Jonathan Swift, die skrywer van Gulliver’s Travels en intertyd Anglikaanse dekaan van Dublin, het al in die 18de eeu gekom met die “bedeesde voorstel” dat armoede, hongers­nood en ander ellendes wat die mensdom kwel, bygelê kon word as ons net meer ondernemende maniere kon vind om die kos­voorraad te bestuur. In ’n wêreld waar kosvoorraad stadiger groei as die aantal bekke wat wil eet, is sy bedeesde voorstel dat melk­gevoerde babas van die armlas­tiges tot spyskaarte gevoeg word om sodoende gelyktydig meer vleis op die mark kon kom, rykes se kulinêre keuses uitge­brei kon word, arm ouers die koste en moeite van kinders grootmaak gespaar kon word en die aanwas van die aantal mae wat gevul moet word, dienoor­eenkomstig verminder kon word.

Swift het sy voorstel ironies bedoel as kritiek op die ontluikende geesdrif vir die wondere wat mark-ekonomieë met hul kommodifikasie-logika die mensdom gebied het.

Die onheilspellende besef vat pos dat mense in ’n mark­samelewing nie net as verbruikers voorgehou kon word nie, maar ook op sigself deur ander as verbruiksartikels gesien en gebruik kon word. Een mens se dood word dalk inderdaad ’n ander se brood onder die mededingende toestande wat bevorder word deur die amorele vleismeul-logika van kapitalisme. Dit bring ’n angstige versterking van die kannibale-taboe. Elke mens het sy prys, maar geen mens stel dit op prys dat daar ’n prys op sy vleis is nie – dit ten spyte daarvan dat ’n florerende sluikhandel in harte, longe, tonge, lewers, niertjies en selfs testes in die orgaanoorplantings- markte heers en fluisteringe daarop dui dat mensvleis-resepteboeke hul verskyning op die ”dark net” begin maak.

Vir die Christen-sosialis F.D. Maurice is Darwin se gewilde evolusieleer bevorderlik vir hierdie soort wendinge in ons denkwyses. Darwinisme, sê hy, is verantwoordelik vir die opwekking van ’n werklikheids­beeld van “a universe in which everything is eternally eating everything else” en omdat mense self ook maar as produkte van die werking van so ’n “universe” voorgehou kan word, hoekom maak ons dan nie maar “meatpies” van mekaar as oorlewing dit vereis nie?

Die tyd sal leer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.