Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Beskerm insekspesies nou

Met ’n geskatte 40% van alle insekte wat deur uitwissing bedreig word, het 73 wetenskaplikes van regoor die wêreld, insluitende die Universiteit Stellenbosch (US), besluit dat dringende stappe gedoen moet word om ons insekspesies te beskerm. 

Luidens ’n verklaring deur Martin Viljoen, universiteitswoordvoerder, het die wetenskaplikes onder leiding van prof Jeff Harvey van die Nederlandse Instituut vir Ekologie met ’n padkaart vir wêreldwye insekbewaring en herstel vorendag gekom. 

Die padkaart, met ’n oproep tot ingryping op die kort, medium en lang termyn, het onlangs in die vaktydskrif Nature Ecology & Evolution verskyn.

Dit bevat ’n lys onmiddellike “geen berou” (no regrets)-stappe wat so gou as moontlik gedoen moet word om wêreldwye insekbevolkings te bewaar. Hierdie stappe sluit onder meer pogings in om mense op te voed oor die belangrike rol van insekte en om restourasie- en bewaringsprogramme aan te vul.

Die stappe sluit ook in om die gebruik van plaagdoders uit te faseer, om die invoer van ekologies-skadelike produkte te verminder, om die bekendstelling van uitheemse spesies te vermy en te temper, en om landskapheterogeniteit in landbou te bevorder. Grootskaalse beoordeling van die spesies, gebiede en kwessies wat ons aandag nodig het, moet ook gedoen word. 

Op die medium termyn moet nuwe navorsingstudies oor die verskillende mensgeskepte stressors en huidige inligting oor insekdiversiteit in die verlede in private museums en insekversamelings by universiteite ontleed word. Langtermynstappe sluit vennootskappe in om nuwe habitatte vir insekte te skep en bestaandes te herstel en te beskerm en ’n wêreldwye moniteringsprogram sodat mense dieselfde metodes kan gebruik om insekte te beskerm. 

Een van die medewerkers, dr. James Baxter-Gilbert van die US se Sentrum vir Indringerbiologie, het in sy kommentaar oor die belangrikheid van die padkaart gesê: “Hierdie padkaart sal regerings, navorsers en bewaringskundiges help om die bedreigings wat ’n uitwerking op insekgemeenskappe het, aan te spreek en sodoende die afname van insekte wêreldwyd te bekamp.” 

Baxter en die vermaarde insekkenner van die US se Departement Bewaringsekologie en Entomologie, prof. Michael Samways, het tot die ontwikkeling van die padkaart bygedra. 

Volgens Baxter-Gilbert is dit in ons beste belang om insekte te bewaar, aangesien hulle ’n belangrike rol in die instandhouding van ekostelsels en die volhoubaarheid van funksionele voedselwebbe speel. “Sonder die insekte sal die natuur soos ons dit ken, verlore gaan. Verder is insekte noodsaaklik vir menslike voedselproduksie, met baie spesies wat gewasse bestuif en as ’n biologiese plaagdoder dien,” voeg hy by. 

“In die lig van die wêreldwye verlies aan biodiversiteit, is bewaringsaksies nou meer nodig as ooit. Tog, indien ons die tipiese spesies wat deur bewaring geteiken word wil beskerm, moet ons eers die insekte bewaar, aangesien hulle so ’n groot las van die ekologiese funksie dra wat die res van lewe toelaat om te bly voortbestaan.” 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.