Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bestuurder wil Visit Stellenbosch integreer

Visit Stellenbosch gaan voortaan as ’n geïntegreerde bemarkingsorganisasie omsien na die bemarking van al Stellenbosch se toerismeaktiwiteite, insluitend die wynroete, restaurante, verblyfgeriewe, spesiale geleenthede en natuurervarings. Hoe sien jy jou rol as hoofbestuurder van die nuwe organisasie? My taak is om as koördineerder en bestuurder van al die verskillende toerismegerigte aktiwiteite van Stellenbosch op te tree. My grootste rol gaan wees om ’n nuwe kultuur te help skep waardeur elke individuele rolspeler voordeel sal trek uit sy verbintenis met Visit Stellenbosch omdat volledige integrasie van al die verskillende sektore van toerismeaktiwiteite gaan plaasvind. My grootste uitdaging is om vertroue in die nuwe organisasie te vestig. Gelukkig skep die ervare mense binne die organisasie vertroue en almal op die raad is bedrewe in die verskillende sektore met baie jare ervaring in en verhoudings met die bedryf.

Wat gaan een van jou eerste take wees om die nuwe organisasie te vestig? Op praktiese vlak moet ons die sleutel-instaatstellers identifiseer om volhoubare sosio-ekonomiese ontwikkeling te kan skep. Dit is belangrik om plaaslike ondernemings te identifiseer wat Visit Stellenbosch sal ondersteun, en wat deur Visit Stellenbosch ondersteun kan word. Sodra die onderneming staan, sal ons dit bemark om dit volhoubaar te maak. Ons sal ook mentorskap en opleiding vir sulke plaaslike ondernemings ondersteun. Daar is tans leemtes by opkomende ondernemings wat ons die hoof sal bied. Een daarvan is bemarking. Die sleutel-aksie wat moet gebeur is om die toerisme-ekonomie se potensiaal te ontsluit en te ontgin. Die tweede stap is om dit te verdeel sodat daar voordeel is vir die breër gemeenskap en om die ondernemings deel te maak van die (toerisme-) waardeketting. Ondernemingsontwikkeling is een deel, maar daarmee saam gaan opleiding sodat ons besoekers aan Stellenbosch se ervaring op internasionale vlak kan plaas. Ons moet toesien dat ’n volledig geïntegreerde organisasie vir Stellenbosch in bedryf gestel word. Visit Stellenbosch staan op verskeie bene en al hierdie entiteite moet saamgesnoer word om te verseker dat ons die dorp suksesvol kan bemark. ’n Absolute kultuur van integrasie moet heers sodat elkeen wat hiervan deel is, besef wat die voordeel van samewerking is. Elkeen van die entiteite word onafhanklik bedryf en die wynroetes behou hul mandaat om wyn op landbou- en produksievlak te bedryf. Die toerismeaktiwiteite skuif egter na Visit Stellenbosch. Net een organisasie moet alle toerismeaktiwiteite bedryf, en dit is Visit Stellenbosch. Stellenbosch Publicity and Marketing (SPM) gaan ook voort en die inkomste wat hy as vennoot van Visit Stellenbosch verdien, gaan na die groter organisasie. Ons het diensleweringsooreenkomste met al die entiteite gesluit om hierdie verhoudings te bestuur en die oorkoepelende strategie te ondersteun. Dit is ook belangrik om te verstaan dat die nuwe organisasie nie ’n samesmelting van twee organisasies was nie, maar wel die rolspelers en doelstellings wat verenig is.

Stellenbosch gaan nie net oor wyn, historiese huise, goeie restaurante en verblyfgeriewe nie. Hoe gaan elke sektor van Visit Stellenbosch ’n regmatige plekkie in die son kry? Wyn en verblyf is die twee sterkste dele en bring ook die meeste geld in. Elke afdeling het sy eie mandaat, maar werk saam onder een gesamentlike en geïntegreerde strategie van Visit Stellenbosch. Elke sektor – wyn, verblyf, restaurante, geleenthede (events), avontuur en saketoerisme – word onafhanklik deur kundiges uit daardie sektor bedryf, maar almal van hulle ondersteun ons oorhoofse strategieë.

Saterdagaand se wynfees was ’n toonbeeld van die beste wat Stellenbosch kan opdis, maar wat gaan Visit Stellenbosch doen om die wyne van die streek, die kos en ander geleenthede vir die breër gemeenskap toeganklik te maak sodat almal die geleentheid kan kry om deel te wees hiervan? Ons gaan dit volgende jaar nog groter en beter maak met ’n fees wat die hele naweek gaan duur. Intussen is die soirees ook teruggebring om aan almal in Stellenbosch ’n bekostigbare geleentheid te bied om ons voorste wyne te proe en deel te hê aan die produkte van ons toprestaurante. Hierdie opskiet-gebeurtenis is toeganklik vir almal. In die winter sal dit in die stadsaal aangebied word om te verseker dat dit volhoubaar regdeur die jaar geskied. Dit is belangrik om geleenthede te skep wat behoorlik by die handelsmerk-posisionering van Stellenbosch se wyn van oorsprong pas. Ons het hierdie soort geleenthede nodig, terwyl ons ook vir die Stellenbosse verbruikers toeganklik wil wees. Straat-soirees en dié in die stadsaal is die bekostigbare plaasvervanger en ook die stadsaal-soirees se derde geleentheid word nou in die middel van Augustus aangebied. Ons sien in die demografie dat dit verteenwoordigend is van Stellenbosch se gemeenskappe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.