Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Burgemeester kyk terug oor die jaar 2018

gesie
Uitvoerende burgemeester, Gesie van Deventer.

Dit was ’n jaar vol hoogtepunte, laagtepunte en uitdagings. Eikestadnuus het Stellenbosch se burgemeester, Gesie van Deventer, uitgevra oor haar ervarings van die jaar by die munisipaliteit en die raad.

Waaraan is 2018 vir jou gekenmerk – wat was die uitstaande tendense deur die jaar binne die munisipale raamwerk?

Begin ons al die vrugte pluk van 2016 en 2017 se harde werk? Ons het in 2018 begin momentum bou en ons kan werklike vordering begin sien. Die implementering van ons besonderse projekte het baie goeie vordering gemaak – projekte soos die opgradering van ons afvalwatersuiweringsaanlegte waarvoor ons pas ’n prys ontvang het, die installering van elektrisiteit in Enkanini, die omvattende opgraderingsplanne van Khayamandi en die aanvang van groot behuisingsprojekte soos by Idasvallei en Jamestown, en die opgradering van informele gebiede plaas ons gemeen­skappe in ’n baie beter posisie. Ons het ook groot vordering gemaak met die belyning en implementering van hersiene verordenings en beleide.

Wat was vir jou as burgemeester die hoogtepunte in 2018? Daar was ’n aantal hoogtepunte vir my die afgelope jaar, maar ek kan dadelik aan twee dinge dink wat vir my uitgestaan het. Ons het die watertekort weens die ongekende droogte suksesvol bestuur en daardeur ’n krisis vermy. Ek is baie trots op ons inwoners wat so goed saamgewerk het! Die oorhandiging van meer as 620 titelaktes die afgelope jaar was vir my ’n wonderlike voorreg. Die titelaktes maak ’n daadwerklike verskil in mense se lewe omdat dit aan hulle eienaarskap en ekonomiese bemagtiging bied.

En laagtepunte/grootste uitdagings?

’n Groot teleurstelling was die vernietiging van die infrastruktuur in Khayamandi wat deel is van die behuisingsprojek in die omgewing. Sewentien miljoen rand se infrastruktuur en tydelike strukture waarin mense gehuisves sou word terwyl hul nuwe huise gebou word, is vroeër vanjaar vernietig. Die vernietiging deur ’n klein groepie mense vertraag nou ’n projek waarby honderde weerlose inwoners groot baat sal vind.

Wat is jou verwagtinge vir 2019 op die gebied van:

Veiligheid: Ons organigram is hersien en dit gaan ons nou in staat stel om ’n groter fokus op wetstoepassing te plaas. Die hersiening het ons in staat gestel om pasmaakoplossings vir Stellenbosch te implementeer. Ons nuwe senior hoof van wetstoepassing, Charl Kitching, het reeds op 1 Desember begin – hy het jare se ervaring en kennis en dit gaan ’n groot bydrae tot ’n veiliger omgewing en meer reg en orde lewer.

Omgewing: Ons gaan voort om ons rioolstelsel te verbeter en opvangsputte in informele nedersettings te installeer. Dit sal gewis ’n positiewe impak op ons riviere se gesondheid hê. Ons het pas ’n prys vir die mees verbeterde afvalwatersuiweringsaanleg verower. Die toekenning is deur die Waterinstituut van Suidelike Afrika (WISA) en die nasionale departement van water en sanitasie gedoen. Ons is trots op hierdie prestasie en glo dit wys dat ons op die regte spoor is. Ons gaan voortbou op hierdie sukses. Baie waterwyse stelsels en meters verminder ook steeds waterverbruik.

Ekonomie: Ek glo dat ons verbeterde beleggingsinfrastruktuur tot verbeterde verbruikersvertroue in ons dorp sal lei met meer nuwe geleenthede vir al ons inwoners.

Behuising:Behuising bly een van ons grootste uitdagings en dit is nie ’n uitdaging wat oornag gaan verdwyn nie. Ons beweeg egter in die regte rigting en begin die verskil in ons gemeenskappe sien – nuwe ontwikkelings wat opgerig word, behuisingsprojekte wat van stapel gestuur en voltooi word (Idasvallei, Klapmuts, Khayamandi, Cloetesville en Jamestown het reeds begin of is reeds in die tenderfase) en titelaktes wat geregistreer en oorhandig word. Ons sal aanhou begroot en alles binne ons wetlike raamwerk doen om so veel as moontlik behuisings­geleenthede vir ons inwoners te skep. Ons het ook groot planne vir woonstelgeboue vir ons kwesbare ouer mense en agterplaasbewoners.

2019 is verkiesingsjaar – hoe gaan dit die bestuur van die dorp beïnvloed?

Werksaamhede binne die munisipaliteit gaan gewoonweg voort en ons fokus op dienslewering aan ons inwoners. Dit is egter moontlik dat polities-gedrewe betogings ’n impak op dienslewering kan hê. Ons ervaar altyd in die aanloop tot verkiesings ’n toename in die aantal betogings reg oor die land. Graag sê ek baie dankie vir die ongelooflike ondersteuning, hulp en insette wat ek uit die hele jaar alle gemeenskappe ontvang het. Die samewerking tussen die munisipaliteit en die gemeenskap het werklik ’n positiewe verskil gemaak. Ek wens vir almal ’n baie geseënde en veilige feestyd toe. Ek sien uit na 2019 en nog nouer samewerking met alle gemeenskappe, wat ’n positiewe verskil in ons dorpe gaan maak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.