Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Burgemeester skommel haar komitee

’n Hele paar veranderings in die burgemeesterskomitee is pas deur die burgemeester, Gesie van Deventer, aangekondig.

Drie lede van die vorige komitee sal nie meer daar diens doen nie.

Johannie Serdyn, voorheen die burgemeesterskomiteelid vir beplanning, Paul Biscombe (menslike nedersettings) en Aldridge Frazenburg, (gemeenskaps­ontwikkeling en -dienste) is nie weer in die burgemeesterskomitee aangewys nie.

Biscombe is in die pos van sweep verkies.

Patricia Crawley en Manie Petersen is albei nuwe lede.

André Pelser, voorsitter van die Stellenbosch-belastingbetalersvereniging (SBV) het by navraag gesê hulle sien die veranderings as ’n positiewe stap.

“Afwisseling en vernuwing kan stimulerend wees. Die raadslede wat vrygestel is, kan nou meer energie en aandag aan die komende verkiesing wy. Die tekens van verbetering in Stellenbosch se bestuur en administrasie word al hoe meer sigbaar en bied hoop vir die toekoms,” was sy kommentaar.

Volgens Mart-Marié Haasbroek, kommunikasiebeampte van die stadsraad, maak die Wet op Munisipale Stelsels voorsiening vir die aanwysing van ’n burgemeesterskomitee wat die uitvoerende burgemeester ondersteun en raad gee in die uitvoering van haar mandaat en pligte.

Die veranderinge in die burgemeesterskomitee is Woensdag by die maandelikse stadsraadsvergadering aangekondig.

“Die verandering volg nadat ’n vakature in die burgemeesterskomitee ontstaan het. Met die bedanking van speaker Donovan Joubert in Julie 2018 en die verkiesing van ’n nuwe speaker, Mienie Petersen, het ’n vakature vir die posisie as sweep ontstaan. Dit is gevul met die verkiesing van die burgemeesterskomiteelid vir behuising, Paul Biscombe.”

Die munisipaliteit het op 1 Julie vanjaar ’n nuwe organogram ingestel en komiteeportefeuljes moes aangepas word om die verandering in die organogram te weerspieël.

Die behoeftes wat deur inwoners identifiseer is, is met die samestelling hiervan in ag geneem.

Danksy ’n formele versoek van die landbousektor, wat die plaaswerkers en kommersiële boere insluit, is ’n nuwe portefeulje, landelike bestuur en toerisme, geskep wat spesifiek op landbou sal konsentreer.

Die burgemeester het verkies om die portefeuljes te vul volgens ’n proses waarvolgens raadslede kon aansoek doen.

Die vaardighede van die raadslede, die motivering wat die raadslede in hul aansoeke gegee het, die diensrekord van die huidige komitee asook die behoefte om vaardighede na ander en meer raadslede oor te dra, is met die oorwegingsproses in ag geneem.

Die nuwe burgemeesterskomitee is:

V Uitvoerende burgemeester: Gesie van Deventer

V Uitvoerende onderburgemeester en portefeuljehouer vir menslike nedersettings: Nyaniso Jindela

V Finansiële dienste: Patricia Crawley

V Parke, oop ruimtes en omgewing: Xoliswa Mdemka

V Beplanning en plaaslike ekonomiese ontwikkeling: Esther Groenewald

V Jeug, sport en kultuur:

Manie Pietersen

V Landelike bestuur en toerisme:

Salie Peters

V Gemeenskap- en veiligheidsdienste: Jan de Villiers

V Infrastruktuur: Quintin Smit

V Korporatiewe dienste: Vakant

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.