Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Buurtwagte kry amptelike status

Veiligheid in Stellenbosch en die Paarl is moontlik opgeskerp nadat 14 splin­ter­­nuwe buurtwagte in hierdie gebiede amptelik geakkrediteer is.

Die akkreditasie is by ’n seremonie toegeken wat Dinsdag 3 Julie in Stellenbosch se stadsaal plaasgevind het en deur die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, Dan Plato, behartig is.

Akkreditasie is aan 12 buurtwagte in die groter Stellenbosch-omgewing gegee, wat Vlottenburg en Cloetesville insluit, terwyl twee buurtwagte in Paarl geakkrediteer is.

Die nuwe buurtwagte bring die totale aantal buurtwagte in die provinsie op 226 te staan en daar word verwag om akkreditasie aan nog 100 of meer buurtwagte in die komende boekjaar te gee.

R1,225 miljoen is vir opleiding begroot asook R1,3 miljoen om buurtwagte van die nodige toerusting te voorsien.

Buiten die toerusting, wat onder meer noodhulptassies en flitse insluit, kom die nuut geakkrediteerde buurtwagte in aanmerking vir addisionele opleiding wat deur die departement gemeenskapsveiligheid aangebied sal word.

“Vrywilligers het die potensiaal om ’n hele gemeenskap te verenig om ’n algemene doelwit na te jaag en eienaarskap van hul gemeenskappe van misdadigers terug te neem,” lui ’n persverklaring uit Plato se kantoor.

“Veiligheid is almal se verantwoorde­likheid en die gewilligheid van aktiewe inwoners om die departement by te staan word waardeer en is noodsaaklik vir ons pogings om ondersteuning aan die polisie te bied in die voorkoming van misdaad en bekamping daarvan.”

Die uitvoerende burgemeester, Gesie van Deventer, het al die vrywilligers bedank wat deel van die onderskeie buurtwagte vorm.

Sy het gesê hierdie inwoners speel ’n uiters belangrike rol deur deel te wees van die oë en ore in hul gemeenskap.

Sy het Plato bedank vir sy betrokkenheid by en ondersteuning van veiligheidsinisiatiewe in die groter Stellenbosch-omgewing.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.