Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Daar is lig aan einde van tonnel’

Die plaaslike digter Hendry Kortjè het op Saterdag 7 November sy vyfde digbundel, Parakletos, by die Breughel-teater bekend gestel.

Kortjè het die gehoor betower deur van sy gedigte voor te lees en die inspirasie agter die ge­dig­te te verduidelik.

“Ek is nie ’n gebore skrywer nie. Dít wat ek skryf, is wat ek ervaar en wat ek ondervind het,” het Kortjè gesê.

“Ek is ’n voormalige bendelid en was aan dwelms verslaaf. Ek het nooit gedink ek sou ouer as 20 word nie. Ek is nou 54 jaar oud. Dit is bloot genade dat ek vandag leef. Ek was in baie gevaarlike omstandighede en het dikwels by die dood omgedraai. Alles wat ek doen, doen ek uit dankbaarheid omdat ek nog gespaar is tot vandag toe.”

Kortjè het in Maart vanjaar sy vierde algehele en eerste saamgestelde digbundel saam met ander skrywers, Queens en Kings - rondom ’n ghellieblik in die stofstrate van ons geheue, bekend gestel. Met sy vorige bundel het hy ook sy eerste visuele-kunste-DVD bekend gestel. Verlangetroos bevat ou en nuwe gedigte sowel as voorlesings wat hy self gedoen het.

“Ek wou graag ontslae raak van nog pyn in my binneste. Dit is hoekom ek besluit het om my vyfde bundel ook in 2019 uit te reik.”

Kortjè het die betekenis van die woord “Parakletos”verduidelik.

‘Parakletos’ beteken advokaat. Dit beteken iemand wat namens jou praat wanneer jy nie kan praat nie. Dit is ’n woord wat in die Nuwe Testament voorkom. Dit weerspieël die donkerte en duisternis waarin ek was – verslaaf aan dagga en Mandrax, die sterkste dwelms wat ons destyds in die jare tagtig kon kry.

“Dis hoekom die boek ’n donker omslag het. Jy kan egter sien op die prentjie is daar tog lig aan die einde van die tonnel – maak nie saak hoe diep ’n mens verval is of hoe diep jy gebind of verslaaf is nie. Daar is altyd lig aan die einde van die tonnel.”

Volgens Kortjè weerspieël die engel se vlerke op die omslag die Heilige Gees wat hom “gedurig bystaan, help en lei”.

Hy het die bundel aan sy pa en vierde seun, wat slegs ’n halfuur gelewe het, opgedra. “Die hele bundel is ’n emosionele rivier wat ek oorsteek, hoewel ek baie van my ma praat. Deur die bundel veg ek nog vir oulaas met my ma. Daai antie het my die mooiste maniere geleer. Sonder haar sou ek dit nooit gemaak het nie. “Die belydenis van ’n verlore seun met homself” is een van die eerste gedigte waarin ek my ma om verskoning vra.”

Kortjè se vorige bundels is Die Antie met die Vuil Kopdoek in 2016, My lewe is in’n Swart Haadkawwe Boek in 2017 en Trane vir Jeevin ook in 2017.

Kortjè, wat as natuurbewaarder by CapeNature werk, betaal self vir die publikasie van sy boeke.

Al sy bundels is beskikbaar by die biblioteke in Pleinstraat in die middedorp, Idasvallei en Cloetesville en is by hom te koop.

Hy bied elke Donderdag 17:00 gratis skryfklasse vir kinders en jeugdiges by die Breughel-teater in Cloetesville aan. Enigeen is welkom. Hy doen ook voorlesings by verskeie geleenthede. V Kortjè kan gekontak word by 076 424 7992.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.