Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Diamantwinkel in Kerkstraat beroof

’n Diamantwinkel in die toeriste-middelpunt van Stellenbosch was Sondagoggend die teiken van ’n gewapende rooftog.

Vyf mans, wat met ’n mes en 9 mm-pistole gewapen was, het vroegoggend op die winkel in Kerkstraat toegeslaan.

Die voorval het Sondag 5 Mei kort na 10:00 plaasgevind. Die winkel is een van drie diamantwinkels in dié historiese straat van Stellenbosch.

Volgens die bestuurder, wat kort ná die voorval op die toneel was, het alles so vinnig gebeur dat haar personeel nie eens kans gehad het om te reageer nie.

“Die eerste man het die winkel betree en dadelik na ons verkoopskonsultant geloop waar hy haar gedreig en gevra het waar die kluis is.

“Twee mans het kort op sy hakke gevolg en die veiligheidsbeampte net binne die deur vasgedruk en gedreig. Hulle het die paniekknoppie om sy nek gegryp en gevra waar die ander gebêre word. Die mans het daarna albei met kabelbinders vasgebind.” Hulle het die paniekknoppies en die winkel se sleutels gegryp het later daarmee op die vlug geslaan.

Intussen het hul tweede verkoopskonsultant, wat gou by ’n ander winkel was, onwetend van die voorval by die winkel ingeloop.

“Nog twee mans, wat duidelik buite op die uitkyk was, het hom na binne gevolg en vasgegryp. Hulle het toe die bos sleutels aan hom oorhandig en aangedring dat hy die vertoonkaste oopsluit.”

Die rowers kon die helfte van die vertoonkaste oopkry en het die kluis geteiken voordat hulle doodluiters by die deur uitgeloop het, verby die gaste wat rustig langsaan ontbyt geniet het, tot by ’n wagtende motor wat net om die draai geparkeer was.

Intussen het een van die galery-eienaars langsaan onraad vermoed en haar na die restaurant daar naas gehaas. Hulle het ’n paniekknoppie gedruk en wagte van ABC Security was oomblikke later op die toneel. Die rowers het egter reeds verdwyn.

“Die een ding wat ek hieruit geleer het,” sê die bestuurder, “is dat jou verhouding met jou bure van die uiterste belang is. Ons bure was ongelooflik. Hulle het ingespring en die alarm geaktiveer en agterna seker gemaak dat almal koffie en suikerwater gekry het. Ons is regtig uiters dankbaar vir elkeen.”

Hoewel die rowers met die meeste van hul voorraad weggekom het, was die winkel slegs vir ’n dag gesluit en al die personeel is gereed om terug te kom werk toe.

“Almal was baie ontsenu ná die voorval en sal traumaberading ontvang, maar ons wil net weer terugkeer na normaliteit. Almal is gereed om terug te kom werk toe. Ons is net oneindig dankbaar dat niemand in die rooftog beseer is nie.”

Sy is ook oneindig dankbaar vir hul veiligheidsbeampte van Franschhoek Estate Security en die ondersteuning van ABC Security. “Ons veiligheidswag het self ook reeds aangedring om terug te kom.”

Volgens die personeel was twee van die mans geklee in die uniform van ’n bekende kettingwinkel terwyl ’n derde in ’n kleedrok geklee was. “Hulle het Xhosa met mekaar gepraat en was definitief Suid-Afrikaners.”

Volgens ’n polisiewoordvoerder, kapt. Nathalie Martin, is niemand beseer of al in hegtenis geneem nie.

Enigiemand met inligting kan die Stellenbosch-speurtak by 021 809 9140 skakel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.