Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Die lewe is ’n geskenk,’ sê Linda
Linda Korkee

Dit het alles begin toe Linda Korkee (49) ’n knop in haar borskas gevind het – ’n knop wat die eerste dokter wat haar ondersoek het as skadeloos afgemaak het.

’n Tweede mening in 2014 van ’n dokter wat self kanker gehad het en verdere toetse het egter daartoe gelei dat borskanker wat na haar beendere versprei het, by haar gediagnoseer is.

“Die dokter het nie regtig iets gesê oor hoe die pad vorentoe gaan lyk nie.”

Hy kon haar net raad gee oor watter leefstylveranderinge sy sou moes maak.

Aangesien sy probleme met haar rug gehad het, moes sy onmiddellik haar werk as gehaltekontroleerder by Rhodes Food Group laat vaar.

“Daar is trappe op en af by die fabriek en ek kon nie meer doen wat ek gedoen het nie.”

Sy ontvang tans elke drie maande behandeling by die Tygerberg-hospitaal om onder meer haar bene sterk te maak. Wanneer sy ekstra versorging nodig gehad het, kon sy nog altyd aan Stellenbosch-hospies se deur gaan klop.

Jy moet self ’n pasiënt wees om regtig te besef waardeur ’n mens gaan en wat regtig op jou wag.

“Mense het ’n wanindruk van die hospies. Jy gaan nie soontoe om te sterf nie, maar om gehelp te word. Hulle gee nie net medikasie nie, maar ook ondersteuning soos emosionele ondersteuning wanneer jou emosies begin wipplank ry. Jy kan ook soontoe gaan as jy moet rus.”

Om kanker te hê, is ’n nuwe ervaring waarvoor niemand jou kan voorberei nie, vertel sy. Sy het nie geweet wat alles met haar lyf gaan gebeur nie en niemand kon haar vertel wat om te verwag nie.

“Jy moet self ’n pasiënt wees om regtig te besef waardeur ’n mens gaan en wat regtig op jou wag. Niemand se ervarings is dieselfde nie. Mense hanteer dit ook nie dieselfde nie. Miskien is dit vir jou maklik en vir my moeilik.

“Almal kan nie ewe positief daaroor wees nie. Die woord kanker op sy eie sit mense klaar af en laat party opgee. Ek het gedink dit is nou klaar met my, veral omdat dit versprei het. Dit was vir my moeilik en intens omdat alles so vinnig gebeur het.”

Om te lewe is ’n voorreg, nie ’n moet nie. Dit is ’n geskenk wat ons by die Here gekry het.

Die werklikheid van haar siekte het eers later by haar ingesink toe sy in November 2014 met bestraling begin het en kans gehad het om tot verhaal te kom. Sy het besef dat sy vrede met die situasie moes maak.

“As jy nie vrede maak nie, kan jy nie vorentoe beweeg nie. Baie mense sê vir jou dat jy nie vrede moet maak daarmee nie, want dan lyk dit asof jy die siekte aanvaar. Maar die siekte is in my liggaam. Die beste vir my was om dit te aanvaar sodat die pad vorentoe ’n bietjie makliker kan wees.”

Sy sê as kanker by ’n mens gediagnoseer word, is dit ’n swaar ding wat soos ’n donkerte oor jou hang. Haar geloof en haar familie het haar egter sterk gehou en sy het ’n lewensles deur die ervaring geleer.

“Ek het geleer om nie die lewe as vanselfsprekend te aanvaar nie. Om te lewe is ’n voorreg, nie ’n moet nie. Dit is ’n geskenk wat ons by die Here gekry het. En lewe reg met mekaar! Deel liefde uit – dit kos mos nie geld nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.