SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Nuus
Dié speurspan is beste in W-Kaap

Hulle was al verantwoordelik vir suksesvolle vervolgings van verskeie hoëprofielmoordsake.

Dit was egter die eerste keer dat kol. Deon Beneke en speursersante Stephen Adams en Marlon Appollis as die beste speurspan in die Wes-Kaap aangewys is.

Dié eer is Saterdag 23 November deur die Wes-Kaapse polisiebestuur by ’n glansgeleentheid in Kaapstad aan dié drie gesoute speurders van Stellenbosch-polisiekantoor se speurtak toegeken.

Die toekenning was vir hul “puik ondersoekwerk” wat gelei het tot die skuldigbevindings en lang vonnisse van Henri van Breda, Jason Rohde en die vier mans wat die Matie-student, Hannah Cornelius, wreed vermoor het.

Al drie mans sê dis lekker om geëer te word en hulle hoop dit sal dien as ’n voorbeeld en inspirasie aan ander speurders. “Dis lekker om vir harde werk erkenning te kry,” het sers. Adams kortliks gesê.

Kol. Beneke was hoof van die speurtak ten tyde van die ondersoeke en neem tans as stasiekommissaris van die polisiekantoor waar.

“Harde werk werp vrugte af,” sê hy.

Moordondersoeke lê baie na aan sy hart, veral wat vroue en kinders betref. “Geen moord is perfek nie, maar ons het ’n besonderse vaardigheid. Ons het ’n natuurlike aanleg vir hierdie goed. ’n Gut feeling. Ons magtigste vaardigheid is ons ondervragingstegnieke,” sê Beneke en prys ook die hulpbronne tot hul beskikking, insluitend die forensiese beamptes.”

Wat die toekenningsaand vir hom meer spesiaal gemaak het, was dat hul eggenotes ook daar was.

Hy prys sy medekollegas Adams en Appollis. “Dit sal goed wees as ouens soos dié in aanmerking kom vir bevordering. Dit sal hulle goed te beurt val.”

Appollis, wat in Oktober verlede jaar na die teenbende-eenheid geskuif het, sê die erkenning maak al die opofferinge die moeite werd.

“Daar is talle spesiale oomblikke wat jy graag met jou familie wil wees. Dit is egter deel van die opofferings wat ons sowel as ons families maak,” vertel die getroude pa van twee.

Appollis wens sy oorlede vriend en kollega, David Hoffman, was saam met hom om in hierdie vreugde te deel.

“Hy sou bly gewees het en ons sou dit saam gevier het.” Hoffman is op 17 Augustus vanjaar oorlede nadat hy glo per ongeluk deur Appollis geskiet is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.