Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Dié vreemdeling hou van ons dorp, maar ai die . . .

’n Vreemdeling in ons poorte loop saam straataf, haak vas op die hoek, en vra: “Watse draadwerk is hierdie?”

“Dié draadwerk is funksionele kuns, dis vir fietsparkering,” sê ek barstend van trots. “Dis eintlik buitelugbeeldhoukuns, maar dis kuns wat wérk.”

Die vreemdeling kyk, en kyk, en kyk weer. “Dis nou verdomp slim,” is die oordeel.

Toe gaan maak ons ’n draai by elke “draadwerk” in die strate en die vreemdeling sweer dis net in Stellenbosch dat jy sulke wonderlike goed sien.

Goed, ek oordryf; hy het gesê: “Dis ’n (m-vloekwoord) oplossing vir die (f-vloekwoord) verkeersprobleem wat jul dorp het.”

Hy wou nog sê Stellenbosch het ’n (f- vloekwoord) goeie stadsbestuur wat sulke dinge soos fietsparkering uitgedink het.

Ek ontnugter hom. Die “draadwerk” is deel van die jaarlikse buitelug-kunstentoonstelling in die dorp en dis regte kunstenaars wat hierdie funksionele kuns gemaak het. En dis skenkergeld én dis harde werk om dit te bedink, beplan en uit te voer én dis Andi Norton, projekbestuurder, wat die hardste werk.

Ons vreemdeling is goed beïndruk, maar hy hou vol, hierdie sypaadjieparkering vir fietse is ’n (f- vloekwoord) briljante oplossing.

Toe sien hy ’n baie interessante probleem raak. (Ek het hom eintlik daarop gewys). Die sypaadjies het nog net-net plek vir die fietsparkering, want die res van die sypaadjies sit vol koffiedrinkers en mensekykers. Voetgangers is die stiefkinders van die dorp. Hulle moet net “duck and dive” om tussen die karre en die koffiedrinkers veilig hul bestemmings te bereik.

Ek herinner hom dat ons dorp al om die hawerklap ’n nuwe koffieplek kry. Sypaadjiesitters- en -drinkers is ’n dorpsinstelling.

Teen hierdie tyd lyk dit of die besoeker ’n lesing gee: “Koffie is die nuwe ‘geld’. Toerisme weet dit, koffieverkopers weet dit, en die koffiedrinkers kan nie daarsonder nie.”

Toe sê hy wat ons almal weet: “Julle moet die karre van die straat af kry.”

Ek sê vir hom: “Tell that to the marines.”

Hy sê: “ ’n Slim stadsraad sou dit al lankal gesien het. Die dorp gaan verstik aan sy motorverkeer.”

Hy begin die ook-nou-so-bekende-deuntjie: Bou parkeergarages, sluit sommige, hou groot trokke van die pad, LOS DIE VERKEERSPROBLEEM OP!

Ons het toe meer as koffie nodig gehad, want hierdie besoeker is ernstig oor ons dorp (soos baie inkommers). Hy soek eiendom hier. Maar hy sukkel. Eiendom te koop is so skaars soos hoendertande. As hy hier plek sou kon kry sou hy werk daarvan maak om die owerhede te dwing om (f-vloekwoord) die verkeersprobleem op te los.

“Of wil julle maar net ’n ou toeristedorpie bly, met toeriste gekoek op nou sypaadjies?”

Toe sê ek maar die toeriste, soos die dorpenaars, is baie gek na ons openbare kuns op die sypaadjies. Dis net die straatverkeer wat lol.

Wat meer kon ek sê?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.