SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Nuus
Digitale klaviere leer agt leerlinge speel-speel

Die lokaal by die Hoërskool Stellenbosch waar d-pianolab klavierlesse aanbied, laat jou onmiddellik verstaan hier is iets interessants aan die gang.

Daar is agt swart digitale klaviere, nog ’n klavier vir die klavier­onderwyseres, ’n videokamera wat haar afneem en ’n projektor wat die beeldmateriaal op ’n skerm wys.

Die toneel is egter nie die enigste ding wat ongewoon is nie. Die interessantste deel is die feit dat agt studente gelyktydig in dié lokaal geleer word om klavier te speel.

Alet de Vos, die stigter van d-pianolab, was vir baie jare betrokke by die bestuur van ’n hoërskool se musiekdepartement.

“Elke jaar het ons begin met ’n uitnodiging aan al die leerders om ’n inligtingsessie by te woon waar ons hulle vertel het watter musieklesse hulle kon neem.

“Dit was altyd vir my hartseer dat daar net ’n fraksie van die aansoekbriewe teruggekom het en ons almal het geweet dat daardie spesifieke gesinne eenvoudig besluit het dat hulle nie nog ’n ekstra uitgawe kan bekostig nie.”

Sy het toe gedink as dié voormalige model-C skool se ouers nie musieklesse kon bekostig nie, hoe moet ouers uit minderbevoorregte gemeenskappe dit doen?

In 2008 is haar man skielik oorlede en het haar lewe ’n groot omwenteling ondergaan.

“Ek het ’n behoefte aan rustigheid en stilte gehad en besluit om die onderwys te verlaat.”

Sy was egter nog altyd gefassineer deur tegnologie en die moontlikhede wat dit vir onderwysers skep.

Met geld wat sy uit haar pensioenfonds geneem het, het sy die digitale klavierlaboratorium laat uitlê en ’n niewinsgewende organisasie met ampsdraers uit die gemeenskap gestig.

Nou werk sy met altesaam nege digitale klaviere wat aan ’n mengbank gekoppel is – en dit is heerlik!

“Die groepopset skakel die emosionele tipe probleme wat tussen onderwyser en leerder in ’n een-tot-een lesomgewing kan ontstaan, uit.

“Die groep verleen ook ’n lewendige atmosfeer aan die les en herhalings word lekker pret.”

Steve Coetzer, ’n student aan ­die Universiteit Stellenbosch se musiekdepartement, wat tans sy meestersgraad met musiektegnologie as vakrigting voltooi, is al sowat twee jaar by die projek betrokke.

“Dit voel nie soos werk as jy hier is nie, dit is lekker en baie bevredigend om te weet jy kan in iemand anders se lewe ’n verskil maak.

“Dit is nou my tweede jaar hier en dis so interessant. Ek het nooit geweet dat ’n mens agt klaviere op een slag in een kamer kan hê en boonop iemand kan leer speel nie.”

Die konsep is vir hom so interessant dat hy besluit het om dit die onderwerp van sy tesis te maak en hoop om die konsep so te verpak dat dit in ander gemeenskappe geïmplimenteer kan word.

Die grootste voordeel van groeplesse is die vermindering van die kostes wat aan musieklesse verbonde is.

“ ’n Klavierles kan tot R150 per uur kos en baie mense kan dit nie bekostig nie,” sê Coetzer.

“ ’n Tweede hap word geneem vir die lokaal en ’n derde vir die instrumente. Jy bespaar hier nie net op die salaris nie, maar ook op die lokaal omdat een gelyktydig vir agt leerders gebruik word,” voeg De Vos by.

Hoewel hulle eintlik met kinders werk, is daar gereeld volwassenes wat ook wil kom.

“As daar ’n opening in die klas is, akkommodeer ons hulle. Daar is sommige klasse waar die ouma en die kleinkind saam in die klas sit,” sê De Vos.

Een van hul ander ouer leerders is ’n man van Idasvallei wat graag klavierlesse wou neem sodat hy vir sy kerk kon speel.

“Hy het vir ’n oudisie by my huis kom speel. Hy is so dankbaar om nou in ’n musiekklas te wees,” vertel De Vos.

Elke kind wat vir klavierlesse kom, het egter ’n storie van sy eie.

“Een kind se ouers het vir hom ’n klavier gekoop,” vertel De Vos.

“Die kind se ma vertel my hulle het die klavier by ’n ou tannie wat oorlede is, se man vir R1 000 gekoop.

“Die volgende dag bel sy my weer en sê die tannie aan wie die klavier behoort het, het in ’n droom aan hom verskyn en gesê sy is so bly hulle het die klavier vir hom gekoop.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.