Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Dis tyd om donker bloed uit te bloei’

Erfenis loop diep. Anders as om dit af te maak as sentimente, is ons onteenseglik verbind met ons verlede en dus met mekaar. Dit vra vir ’n regstelling oor persepsies van mekaar se kulture wat dikwels maar skeef kan loop met wanbegrippe en die gevolglike implikasies van onder meer geweld, soos nou, met vreemdeling-, geslags- en rassehaat en dit alles teen die agtergrond van ’n onsigbare virus.

In Engels is daar ’n goeie en raak beskrywing as daar gepraat word van the other. ’n Konsep wat tot ons voordeel ontgin kan word as ons net dieper wil kyk en othering wil beoefen. Ek doen dit dikwels as ek wonder oor ander se kul­ture en probeer aansluiting vind met ons gedeelde geskie­denis.

Ek wens ek het ’n raak Afrikaanse woord vir othering gehad. Miskien kan u help.

As u wil weet wat ek bedoel, hoef u net na die Bybelse wysheid te kyk van aan ander doen wat jy aan jouself gedoen wil hê. Kortom gestel, wees empaties en plaas jou in ’n ander persoon se skoene.

In die seerkrystraat waar ek gebore is met hope en hope vreugde het ek gedurigdeur the other kon ondervind, omdat jy nog naby die warmte van jou hartsgemeenskap geleef het. Ja, daar was die opdringerigheid van die jeug waar die boelie met woorde, en somtyds met die vuiste, die oorhand kon kry as die ego ook sy deel wou bydra.

Maar later, in hierdie seerkrystraat in Stellenbosch wat toegeskryf kan word aan die vernedering van uitsetting van grond wat daarop inge­stel was om jou minder­waardig te laat voel, het verskille, waar Johnnie met sy gelapte broek en Sarie met haar ligte vel, nooit gedien het as ’n wig tussen hulle nie, maar later wel, toe die skermutseling van die gees afskuwelik deur grootmense gepleeg is om net ’n punt te wil bewys dat ons/hulle anders is!

Ironies genoeg het dit my meer sensitief en nuuskierig oor ander gemaak.

Ja, oukei, daar was vele nare voorvalle wat ons op die oog af kon interpreteer as rassehaat.

Dis ook seker maar waar, met die liederlike haatname en waar die mite van die hoogmoed van ’n “suiwer” vel, lewend gehou is.

En so het ons as kinders die wêreld leer ken, danksy voorvaders waar othering ’n vae begrip was en die weghou van groepe of mense van mekaar die hoogste prioriteit in die land was.

Hier kan ek nou maklik sê dit is een groep se skuld. Ek kan nog verder gaan en sê die bruin mense het dit toegelaat.

Maar dit sal net die blaasbalk oor hierdie vuur van skuld nog verder aanhelp!

Een voorval wat my egter byval het in 1944 gebeur toe Matie-studente my gemeenskap aangeval het, maar dit was lank voor my geboorte.

Hier moet u onthou dat dit diep in die bloed kom lê het waar hierdie einste erfsondes van geslag tot geslag loop en nou nog geknoop word in verhoudings en weggesteek word agter skandmure, waar ons die kuns van othering afgeleer het met ’n vreemdheid wat nog steeds daar is.

En om te dink dat dit alles begin het toe vreemdelinge uit ander lande besluit het om aan te bly om alles agter ’n bos met agterdog te bespied met die waan van geregtigheid.

En ja, natuurlik ja, die inheemse bevolking het dieselfde gedoen met ’n ander vorm van othering wat sou uitloop op oorlog en gerugte daarvan en almal nog steeds, onderlangs op God se aarde, weier om, soos ’n vrugbare boom, te bot!

En veral nou in die tyd van korona, waar alles holderstebolder wankel loop en ons die regering van die dag met valkoë dophou.

Dis nou tyd om al die donker bloed uit te bloei. In die ou tyd was daar die gebruik om siektes uit te bloei, maar nou weet ons van beter.

Stellenbosch was nog altyd ryk aan kultuur. Wie oë het, laat hom sien. Wie ore het, laat hom dit hoor.

En wie ’n ander velkleur het, laat hom dit ook voel.

Ons harte klop saam, veral as ons othering toepas wanneer ons met ope harte na ander kulture kyk en tot die besef kom dat ons baie ryk is.

Dis dan hier waar ek wil fokus op kos en ander gebruikswyse wat sê ons almal behoort maar aan een mensdom wat op een spaceship reis.

Die wit gemeenskap met hul tradisie van tipiese potkos wat ook vandag ingekleur word met Afrika-kos.

Trouens, dit kom van oral, oor die wêreld heen, wat onteenseglik bewys dat ons een in gees is.

En wat van die skaapkoppe waaraan ouballies met sterk kruisbande en stywe ronde magies vetbebek smul?

Die bruin gemeenskap fokus weer op kos wat van hul voorouers kom, met ’n sterk slawe-aanslag wat deurloop na die Moslem-tradisie wat oral in die Ooste sy oorsprong gekry het. Hier kan ek net noem dat die oorsprong van koekstruif die slawe was as hulle alle soetighede op die baas se feestafel, wat elke aand maar die geval was, bymekaar gegooi het, om dit na hul kwartiere te neem vir hul gesin se eie fees.

Dankie dus aan hierdie slawe-voorouers vir hierdie trifle wat ek elke Krismis eet!

My ma weer het die fynere kunsies van gemeenskapskos geken en het onder meer oumense innie kombersie en boentjiekos (let wel, nie boontjiekos nie, dit smaak nie dieselfde nie) tot hemelskos verhef!

Uit die swart gemeenskap is daar die mieliepap, marog en hope beesvleis wat smul-smul op jou tong soos goedgevoede blinkgesig Afrika-mense kom lê.

Ek onthou nog goed hoe my korte besoek aan Kayamandi my blootgesteld het aan hope vars geslagte vleis wat seker maar nou in die tyd van nie virus ’n uitdaging kan wees.

Stellenbosch het homself kom skade aandoen deur ons van mekaar weg te hou. Ek was verras toe ek in hierdie verligte tyd ’n wit vriendin se pa se begrafnis in die Moederkerk kon bywoon en ek die gewydheid in die lug kon aanvoel. Die preekstoel was ver van my, asof dit in die hemel is of miskien beter gestel, tussen die wolke waar die gegote siervensters jou neem na ’n mistieke plek hier binne jou.

Ek onthou nog goed hoe ’n ryk ou ballie (ek kon dit sien aan die kleure wat hy dra), soos ’n wafferse verkeersman jou in die Apartheidstyd met handtekens weggewys het asof jy van outer space kom!

Ek moes dus wag tot ná 1994 om dit mee te maak.

Maar dit daar gelaat.

’n An­der ervaring wat ek meege­maak het, was ’n Moslem-troue in die moskee, waar ek kaalvoet saam met my Moslem-familie eer aan die ooste kon bring, hoewel ek nie alles kon verstaan nie.

Die Imam se musikale stem het alles hier binne jou verhef.

Die begrafnis van een van my Moslem-familielede het die heiligheid van die oomblik nog duideliker by my tuisgebring dat die goue kring van aanbid­ding van alle kulture saamge­snoer is in een bedekring.

Dan was daar ook die Joodse gemeenskap se toesluit-begraafplaas wat jou as laaitie geneem het na spoke en gerugte van spoke omdat die wit mure van grendel (lank voor korona), jou laat wonder het oor wat agter hierdie mure skuil.

Weer eens is dit nie so ’n goeie idee om alles te grendel as die eksklusiewe insig jou net laat wonder oor stories en mites oor the other nie.

Maar ongelukkig is dit nou so dat ons nie anders kan nie.

Dis nou tyd om other than ons korona-tjommie(?) waarmee ons nou behep is (dis goed dat dit so is), ons tyd van afsondering te gebruik (vir my is dit nog altyd relevant, wat wou, fase een of twee) om ons voor te berei as ons die staat van afsondering vaarwel roep en ’n nuwe wêreld welkom heet wat inderdaad die geval gaan wees as ons othering toepas en besef dat ons almal maar dieselfde is, maar tog verskillend in ons gedeelde geskiedenis.

The new world is nearly ripe for the picking en as dit te lank neem, vra dit vir Job se geduld.

Onthou, Mandela het 27 jaar vir sy vryheid gewag!

Ons is besig om dit nou te doen. Darem nie so lank nie, of so hoop ek.

We shall overcome met ons kulture, erfenis en al!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.