Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Dit was soos ’n fliek

“Ons het op die polisieradio van die rooftog gehoor terwyl ons op patrollie was en het gehoor dat hulle ’n polisievoertuig gekaap en na Cloetesville gejaag het.

“Die polisievoertuig was toe ook in ’n botsing en die vermeende rowers het te voet gevlug. Ons het die beskrywing gekry en hulle agternagesit. Ons het hulle op ’n oop veldjie naby die Jehova-kerkie in Cloetevsille vasgetrek en die twee in hegtenis geneem.”

Só vertel een van die polisiebeamptes wat Maandag betrokke was in die vastrek van twee vermeende transitorowers wat ’n geldwa naby Klapmuts in ’n lokval gelei en van ’n onbekende bedrag geld beroof het.

“Die twee het hulle teengesit en ontken dat hulle by die voorval betrokke was. Hulle het nie vuurwapens by hulle gehad nie – dit is later in die polisievoertuig gevind, onder andere ’n AK47-masjiengeweer.

“As so iets gebeur, dink ’n mens nie eintlik aan jou eie veiligheid nie – alles gebeur outomaties en jy tree op soos jy opgelei is. Dis amper soos ’n rolprent wat afspeel. Agterna dink jy wel daaraan dat jy dalk kon doodgaan.

“Ons het as ’n span goed saamgewerk. Baie van ons was by verskillende stempunte aan diens en kon vinnig optree. Dit was duidelik dat die rowers nie die pad geken het nie – wie sal dan nou na ’n polisiekantoor toe jaag as jy ’n misdaad gepleeg het?” het die beamptes vertel.

Die vermeende transitorowers het Maandagaand groot konsternasie in Stellenbosch veroorsaak toe hulle in ’n skietgeveg met die Cloetesville-polisie betrokke geraak het.

Luidens ’n verklaring deur brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die nasionale kommissaris, is twee vermeende rowers in hegtenis geneem en die polisie het op geld en vuurwapens beslag gelê.

Die transitovoertuig is kort ná 18:00 in ’n lokval gelei en deur ’n groep gewapende mans in Klapmuts beroof.

Die verdagtes het ’n onbekende bedrag geld gesteel en op die R44 in ’n Toyota Fortuner, wat hulle gekaap het toe dit verby die transitorooftog gery het, gevlug.

“Hulle is in Cloetesville deur lede van die polisie wat op die rooftog reageer het, vasgekeer. ’n Skietery het gevolg, maar die verdagtes het voor die Cloetesville-polisiekantoor uit hul voertuig gespring, in ’n polisievoertuig geklim en weggejaag. Die verdagtes het egter in die jaagtog beheer oor die polisievoertuig verloor en ’n botsing gemaak. Hulle het uit die beskadigde polisievoertuig gespring en te voet in verskillende rigtings gevlug. Die polisie het twee verdagtes (37 en 42) vasgestrek en die soektog na die ander verdagtes duur voort.”

Die Wes-Kaapse SAPD-kommissaris, lt.-genl. Khombinkosi Jula, het ’n aksieplan oor 72 uur ingestel sodat die ander verdagtes vasgetrek kan word.

Die polisie het op twee aanvalsgewere, ’n rewolwer en ’n sak met geld beslag gelê.

“Twee polisievoertuie is beskadig, maar gelukkig is ons polisiebeamptes ongedeerd.”

Geen ander beserings is aangemeld nie.

“Die toewyding wat vanaand deur ons lede getoon is, weerspieël die SAPD se toewyding oor die algemeen om te verseker dat mense nie gruwelike misdade pleeg en dan verwag om daarmee weg te kom nie,” het genl. Khehla John Sitole, die nasionale polisiekommissaris, gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.