Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Drie groet ná jare by Dorpstraat-praktyk

Drie staatmakers groet vanjaar Bosman en Vennote in Dorpstraat.

Hulle is dr. Danie Brink, Dorothy September en Suzette Brink, wat gesamentlik 108 jaar ervaring by Stellenbosch se oudste mediesepraktisynspraktyk het.

Dr. Danie, soos die meeste mense hom ken, is al sedert 1976 by die praktyk betrokke en sal sy pasiënte aan die einde van Augustus vanjaar groet.

Hy is nog altyd ’n man van min woorde – soveel so dat as hy nie gereageer het op die vraag wanneer hy terugkeer van vakansie nie, die personeel Die Burger-kantoor geskakel het om te hoor wanneer sy koerantaflewering hervat sou word.

Vir sy pasiënte was dr. Brink altyd daar met ’n gewillige oor en gerusstellende gefluit, al was dit in die middel van die nag wanneer kinders se ore pyn of ’n onverantwoordelike stouterd steke nodig gehad het. As jou toetse niks ontstellend getoon het nie, het jy ook niks weer van hom gehoor nie. No news is good news by dr. Danie.

Dr. Niki Bosman, senior vennoot in die praktyk wat sedert 1904 in dieselfde straat bedrywig was en wat deur sy pa, dr. Piet Bosman se oom, dr. Johnny Bosman, gestig is, sê dit was lekker om ’n ouer en meer ervare vennoot soos dr. Brink, by wie hy so baie kon leer, te gehad het.

Die praktyk sal ook nie dieselfde wees sonder Dorothy September by ontvangs nie. Dottie, soos almal haar ken, het 44 jaar gelede, op 1 Maart 1975, as liasseerklerk by die praktyk ingeval. Sy was aanvanklik glad nie by die pasiënte betrokke nie, maar een dag toe die foon aanhoudend lui en niemand dit optel nie, het dr. Piet Bosman haar gevra om die oproep te neem.

“Aanvanklik was dit moeilik,” sê Dottie. “Die mense wou nie met my praat nie. By tye wou ek sommer loop, maar dit het later beter geword. Dr. Bosman het net gesê ek moet daarmee aanhou en so het die mense aan my gewoond geraak. Hulle het later selfs lief geword vir my.”

Deesdae kan ’n mens jou beswaarlik sulke ongevoeligheid indink, maar dit was apartheid op Stellenbosch in die jare sewentig. Ook moes sekere pasiënte buite op die tuinbank vir die dokters wag, hoewel hulle dieselfde aandag en diens geniet het.

Volgens September was dié praktyk die eerste in die dorp wat sy ontvangskamer aan al sy pasiënte oopgestel het. “Later was al die pasiënte vir my soos familie.”

Sy was klokslag tien voor sewe elke oggend op haar pos. Sy was nooit siek nie en volgens dr. Bosman het sy nooit gekla as sy op ’n besige dag langer moes werk nie.

September gaan die praktyk en die pasiënte baie mis, maar hierdie flukse oudnetbalspeler van 74 jaar gaan nog lank nie uitspan nie. “Ek is baie lief vir ou mense en ek gaan nou eers ’n bietjie ‘senior sitting’ doen.”

Nog ’n staatmaker wat ’n paar weke gelede haar aktetassie gepak het, is Suzette Brink. “Ek het eendag kom uithelp met die rekeninge, en toe bly ek vir 21 jaar,” lag Suzette, die eggenote van dr. Jannie Brink, wat ook ’n vennoot by dié praktyk is. “Die dokters is ’n lekker span en die praktyk het ook bygehou met die tegnologie.”

Hoe voel dit om saam met jou man in dieselfde praktyk te werk? “Ag, dit het glad nie gehinder nie. Ek het in ’n agterkamer gewerk en hom net gesien wanneer hy fakse kom wegstuur of haal het.”

Vir dr. Bosman en die personeel was “Ant Sellie” die ma en die enjin van die praktyk en het sy hul belange absoluut op die hart gedra.

’n Rustige aftrede is haar ook nie beskore nie – sy ondersteun nou haar dogter, dr. Jeanine Brink, se praktyk en ry haar kleinkinders rond.

Soos dr. Bosman beklemtoon het, gaan die praktyk en die pasiënte dié drie staatmakers gewis baie mis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.