Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Feeskaartjies het vlerke
Karen Zoid vier 20 jaar in die bedryf. Ondersteuners sal vinnig moet spring om nog kaartjies vir haar vertoning saam met die Kaapse filharmoniese orkes te bekom.

Minder as 30 dae bly oor voor die begin van die Toyota US Woordfees en die kaartjieverkope is reeds bykans 12% hoër as op dieselfde tydstip verlede jaar.

Verskeie aanbiedings is reeds uitverkoop.

Hier is ’n paar van die topverkopers in verskillende genres:

Kamphoer: Die Verhaal Van Susan Nell is gegrond op die ware verhaal van Susan Nell, wat in die Anglo-Boereoorlog in ’n konsentrasiekamp verkrag en vir dood agtergelaat is, maar wie se paaie later weer met dié van haar verkragter kruis. Van die agt geskeduleerde vertonings is reeds meer as 50% uitverkoop.

Valsrivier, ’n verwerking van Dominique Botha se bekroonde roman deur Saartjie Botha met Janice Honeyman as regisseur en Anna-Mart van der Merwe en Tinarie van Wyk Loots in die rolverdeling.

Die sonkamer, met Antoinette Kellermann en Lida Botha, gee ’n intieme blik op die bejaardes in ’n aftree-oord, gegrond op opnames van onderhoude met mense in hul 80’s deur die skrywer-regisseur van dié stuk, André Gerber.

Die vermoeienis van vlerke, ’n Afrikaanse vertaling van Lara Foot se internasionaal bekroonde The Inconvenience of Wings, ’n boeiende blik op die impak van gemoedsteurnisse op ’n gesin.

Op die Kinderfeesprogram is Huppelkind tans die topverkoper. Poppe en topstemme (Joanie Combrink, Stian Bam en ander) gee nuwe lewe aan W.O. Kühne se klassieke verhale onder regie van Marthinus Basson.

Kontemporêre musiek

Karen Zoid 20 jaar pops: Karen vier haar 20ste jaar in die bedryf met die Kaapse Filharmoniese Orkes.

Die Golden Circle-kaartjies is reeds uitverkoop, maar daar is nog baie plek in die oop ruimte.

Karoo Suite 2, Karoonagte is Deon Meyer en Coenie de Villiers se opvolgproduksie van hul gewilde Karoo Suite.

Eet Kreef! Laudo Liebenberg (aKING) en ’n vuurwarm band vier dié ikoniese album deur Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band.

Klassieke musiek

Universiteitskoor Stellenbosch: Etensuurkonserte. Die Stellenbosch Universiteitskoor beklee die sesde agtereenvolgende jaar die eerste plek op die Interkultur-ranglys van 1 000 internasionale kore.

Brahms Requiem , Johannes Brahms se belangrikste geestelike werk vir koor, orkes en soliste, Ein deutsches Requiem, word uitgevoer deur die Libertas-koor en -orkes.

Die Forelle : Kwintette vir klavier en strykers. Die sukses van Schubert se lied “Die Forelle” het gelei tot ’n ikoniese kamermusiekwerk.

Skrywersfees

Skrywers - langtafel : Twaalf skrywers sit saam met gaste by ’n lang tafel aan met onder andere China Mouton, die New Yorker Suketu Mehta, die Skot Damian Barr, Fatima Dike, Fred Khumalo, Jolyn Phillips en Marita van der Vyver.

Hof toe! Is ons howe die nuwe politieke slagveld? Johann Kriegler, Thuli Madonsela en Dennis Davis bespreek dié vraag met Andreas van Wyk na aanleiding van Davis en Michelle le Roux se boek Lawfare – Judging Politics in South Africa.

Adriaan & Agrizzi : “Geseën” deur Bosasa . Adriaan Basson en Bosasa se eertydse bedryfshoof, Angelo Agrizzi, in ’n uitpraatsessie met Jacques Pauw.

Filmfees

Poppie Nongena, Christiaan Olwagen se verfilming van Elsa Joubert se klassieke roman, het 12 pryse by die 2019-kykNET-Silwerskermfees gewen.

Die verhaal van Racheltjie de Beer, ’n herverbeelding van dié geliefde legende gegrond op die roman van Brett Michael Innes met Stian Bam, Sandra Prinsloo en Marius Weyers.

Diskoers

Die Filosofiekafee is al ’n feesinstelling. Stan du Plessis is die seremoniemeester en Louise du Toit, Vasti Roodt, Hannes Smit en Anton van Niekerk is die filosowe wat mekaar en die gehoor met tong-in-die-kies-argumente om die bos lei.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.