Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
FGGW kry twee nuwe navorsingsleerstoele
Prof. Xikombiso Mbhenyane, hoof van die afdeling menslike voeding. Foto’s: Damien Schumann

Twee vrouenavorsers aan die fakul­teit geneeskunde en gesond­heids­wetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) is die jongste bekleërs van ’n SARChI (South African Research Chairs Initiative)-navorsings­leerstoel in hul onderskeie velde.

Dit bring die leerstoele vir dié fakulteit op altesaam 12 te staan.

Die navorsingsleerstoele is onlangs aan prof. Xikombiso Mbhenyane, hoof van die afdeling menslike voeding, en prof. Quinette Louw, uitvoerende hoof van die departement gesondheids- en rehabilitasiewetenskappe en die afdeling fisioterapie toegeken.

“Hierdie leerstoel skep die platform vir die konsolidering van my navorsing op die gebiede van inheemse voedsel en voedingsekerheid veral omdat dit op kapasiteitsontwikkeling fokus,” sê Mbhenyane.

“My werk met nagraadse studente is my sterk punt en passie.”

Haar navorsing sal fokus op voeding, gesondheid- en voedselomgewings teen die agtergrond van laasgenoemde se invloed en uitwerking op die drie­dubbele las van wanvoeding, naamlik on­der­voeding (belemmerde groei, uit­tering en mikronutriëntgebreke), oor­voeding en gevolglike nie-oordraagbare siektes (diabetes, hoë bloeddruk, kardiovas­kulêre siektes en kanker).

“Vir die langtermynwelsyn van gesinne en gemeenskappe asook geslaagde ekonomiese en maatskaplike bevorde­ring, is die verbetering van voeding by die hele lewensduur, van bevrugting tot volwassenheid, uiters noodsaaklik,” sê sy.

Volgens Mbhenyane is daar steeds nie afdoende bewyse vir die manier waarop voeding- en gesondheidsuitkomste – soos die saambestaan van die driedubbele siektelas in dieselfde huishouding – hulle voordoen nie.

“ ’n Deeglike begrip van die beweegredes vir voedselkeuses in die huishouding sal die weg aanwys vir die ontwikkeling van doeltreffender voedingsensitiewe programme.

“In hierdie program sal ons kultureel-sensitiewe impakevaluasie-instrumente wat op plaaslike omgewings van toepassing is, ontwerp en bekendstel ten einde voeding- en gesondheidsuitkomste te bepaal.”

Mbhenyane, wat in Limpopo gebore en getoë is, het ’n BSc-graad aan Medunsa (nou die Sefako Makgatho Universiteit vir gesondheidsweten­skappe) verwerf.

Sy is ’n Fullbright-beurshouer wat aan die Universiteit van Illinois in Chicago, Amerika, haar meestersgraad in voeding en dieetkunde behaal het, gevolg deur ’n doktorsgraad in voeding aan die Noordwes-Universiteit.

Mbhenyane het vroeër as dieetkundige in sowel die openbare as private sektor gewerk en was ook ’n akademikus aan die Universiteit van Limpopo en Universiteit van Venda.

Prof. Quinette Louw, uitvoerende hoof van die department gesondheids- en rehabilitasie­weten­skappe.

Vir Louw is die SARChI-leerstoel in “innoverende rehabilitasie” ’n langtermyndoelwit wat bewaarheid is en dié hoogtepunt van haar loopbaan tot dusver.

“Dit dien as ’n wonderlike erkenning van my navorsing op institusionele, nasionale en regeringsvlak. Hierdie leerstoel maak die deur oop na baie moontlikhede en geleenthede wat tot betekenisvolle bydraes tot die samelewing kan lei.

“Op institusionele vlak beteken dit dat die waarde van en behoefte aan navorsing oor rehabilitasie nou sonder meer as ’n belangrike gesondheid­strategie erken en ondersteun word.”

Louw se navorsing fokus op wetenskaplike en kliniese bewyse by rehabilitasie vir die verbetering van menslike funksionaliteit en gesondheid oor dissiplines heen.

“In Suid-Afrika is daar ’n dringende behoefte aan die heroorweging van gesondheids- en maatskaplike strategieë sodat die rehabilitasiebehoeftes van mense met chroniese siektes en gestremdheid doeltreffender gepak kan word.

“Die navorsingsplan van hierdie leerstoel sal Suid-Afrika posisioneer as ’n wêreldleier op die gebied van effektiewe, kostedoeltreffende rehabilitasiedienste vir daardie onvervulde behoeftes van sy mense wat deur chroniese siekte en gestremdheid benadeel word.

“Dit plaas enorme langtermynspan­ning op individue, gesinne, gemeen­skappe en regeringshulpbronne. In laer- en middelinkomstelande, waar gesondheidsbegrotings reeds onvoldoende is, kan bykomende koste vir chroniese siektes en gestremdheids­bestuur doodeenvoudig nie sonder innovasies geabsorbeer word nie.”

Louw het ’n BSc-graad aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf, gevolg deur ’n meesters- en ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Suid-Australië.

In 2008 het sy die neuromeganiese sentrale analitiese fasiliteit aan die Universiteit Stellenbosch tot stand gebring en in die proses die infrastruktuur verskaf wat so nodig was vir navorsing op haar gebied.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.