Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Gemaskerde grysaards

Die koronavirus laat my dink aan ’n gesegde van my ouma: “Die Here sit hoog, my kind, maar hy sien laag”.

Soos N.P. Van Wyk Louw se groot grys ape wat uit die hoë bome afkom en by jou oë inloer, tuur korona tot onder in jou fondamente en soek al die spore wat die letsels van die tyd in jou sterflike karkas gekerf het. Soos ’n Darwinistiese inkwisisie kom soek hy die vlekke van die sondes van die verlede en as hy hulle kry, dan steek hy daardie stekelbaard van hom in en begin verniel.

Die dokters praat sommer so in een asem oor mense wat so oud soos ek is (80 by die volgende verjaardag) en mense met sogenaamde onderliggende toestande is besonder blootgestel aan die virus se vernielsug. So asof ouderdom op sigself ’n “onderliggende kondisie” is. Ek het oudword al sedert my geboorte onder lede en soos die jare aanstap, raak dit net al erger. As dit so aangaan kan dit later miskien my dood beteken.

Die geluk by die ongeluk is die vindingrykheid van die mediese bedryf. Die mediese bedryf is daarop ingestel om metodes te vind wat verhoed dat mense onder meer weens natuurlike oorsake die emmer skop. Tot die aangebore weerstand wat ons bied om goedsmoeds toe te laat dat Charon ons vir ’n uitstappie oor die Styx roei, voeg mediese tegnologie nog ’n verskeiden­heid snykundige, farmakologiese en ander merkwaardighede by om die dag des sterwens uit te stel. Toe Chris Barnard gevra is wat hy dink die beste manier is om selfdood te pleeg, was sy antwoord: “Hou maar net op om jou voorskrifpille te drink!”

Goed en wel. Maar nou kom die stekelbaardvirus en stel al die kwale wat die dokters met hul pille en grille suksesvol onder die mat kan vee ook aan die kaak. Jou kanker is in bedwang, want jy drink jou pille en kry gereeld bestraling. Jou hartomleiding was geslaagd, maar moet net nie vergeet om jou bloeddruk met pille onder beheer te hou nie. Drink jou Statins anders slik als weer toe onder die cholesterol wat deur jou ongesonde eetgewoontes veroorsaak is, of wat jou oersate soos die sondes van die voorvaders in jou gene geplant het.

Maar Ta-korona lyk nie of hy hom danig aan hierdie skanse wat die pille vir ons opstel, steur nie.

Dit lyk eerder asof hy hulle gebruik as ’n bloedspoor wat hy kan volg tot by die gekweste bok wat in sy pille-nes lê en hyg.

So omgord jou lende. Fluit in die donker en spoeg teen die wind. Prewel ’n paar sinne uit Invictus.

En moenie vergeet om jou hande te was nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.