Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Gemengde US-koshuis laat oë rek

Talle oud- en huidige inwoners van Huis Marais-koshuis op die Universiteit Stellenbosch-kampus is erg omgekrap oor die universiteit se planne om dié koshuis in ’n gemengde koshuis te verander.

Dit kom nadat die US die nuus Maandag 14 September aan die studentegemeenskap oorgedra het.

Prof. Arnold Schoonwinkel, viserektor: leer en onderrig, het aangekondig dat, soos in 2020, geen nuwelingstudente in 2021 aan Huis Marais toegeken word nie aangesien die koshuis nie ’n samehorige poging aangewend het om ’n heilsame gemeenskap te skep wat die waardes van die US weerspieël nie. “Ons betreur die feit dat ’n groep invloedryke leiers in Huis Marais die afgelope 11 maande versuim het om die koshuis se etos so te transformeer dat dit die gelykwaardige behandeling van alle bevolkingsgroepe, respek teenoor vroue en die verantwoordelike gebruik van alkohol weerspieël.”

Martin Viljoen, woordvoerder van die US, sê gerugte dat die US-bestuur sou ontken dat hy ’n verslag ontvang het, is onwaar. “Die universiteit het dit nooit ontken nie. Die verslag is ontvang, dit is bestudeer en is in ag geneem wat die uiteindelike besluit betref. Dit is ook ’n wanpersepsie dat die bestuur nie terugvoer gegee het nie. Dat Huis Marais ‘alles’ gedoen het wat van hom verwag word verskil van die inligting tot die US se beskikking.

“Ons wil ’n getransformeerde en geïntegreerde akademiese gemeenskap skep wat kritiese denke ondersteun, debat aanmoedig en wat verbind is tot demokrasie, menseregte en sosiale geregtigheid,” lui Schoonwinkel se skrywe.

Die huidige Huis Marais-koshuiskompleks huisves tans inwoners van Huis ten Bosch (HtB) tot aan die einde van 2020 ná ’n brand by HtB in 2019 en sal weer na verwagting in 2021 terugkeer.

Die Huis Marais-kompleks gaan nou verdeel word om ’n nuwe studentegemeenskap wat plek sal hê om 90 vroue- en 68 manstudente te huisves. Mans- en vrouestudente sal in verskillende seksies van die gebou geplaas word.

“Wanneer verskillende geslagte in dieselfde koshuis woon, skep dit ’n geleentheid om dieselfde aandag te gee aan genderdi­versi­teit as aan alle ander vorme van diversiteit. Terselfdertyd gee dit ons beweegruimte in die lig van die demografiese profiel van die universiteit. Op die oomblik is daar ’n geleidelike styging in die persentasie vroue wat jaarliks by die US toegelaat word,” voeg Schoonwinkel by.

Hy voeg by dat die verslag aangevra is om die optrede van Huis Marais se pogings tot etos-veranderings – van die oomblik wat hul daaroor in kennis gestel is in Oktober 2019 tot en met 16 Maart 2020 – in oënskou te neem.

“Daar was verskeie gesprekke en pogings tot gesprekke met Huis Marais in die periode tot 16 Maart om Huis Marais te kry om ’n voldoende poging aan te wend om sy etos te verander.”

Huidige studente van Huis Marais sal in 2021 steeds as ’n manskoshuis funksioneer. Huidige inwoners sal kan intrek in die deel wat deur HtB ontruim word, of kan aansoek doen om verblyf in die nuwe ko-ed koshuis of enige ander koshuis op kampus.

“Ons is opgewonde oor hierdie geleentheid om ’n nuwe koshuis te skep wat die volle diversiteit van die studenteliggaam verteenwoordig,” het Schoonwinkel gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.