Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Genoeg hout in SA vir huise

Navorsers van die Universiteit Stellenbosch het bevind dat Suid-Afrika genoegsame houtbronne het vir ’n volhoubare houthuis-boubedryf.

“Ons studie het getoon dat deur die houtbronne wat tans as spaanders uitgevoer word, tesame met die aanplanting van bome in gebiede wat vir bebossing geoormerk is, te gebruik, sal dit (op die lange duur) moontlik wees om ’n toekomstige houthuis-boubedryf aan die gang te hou,” sê dr. Philip Crafford van die US se departement bos- en houtkunde. Hy en dr. Brand Wessels het die land se hout­bronne en ’n groeiende houthuis-bou­bedryf se moontlike wêreldwye uitwer-­k­ing op aardverwarming ondersoek.

Die bevindings van hul studie het onlangs in die South African Journal of Science verskyn.

Crafford sê hulle wou bepaal of plaaslike boombronne genoeg hout sal kan voorsien wat nodig is vir aansienlike groei in houthuisontwik­kelings in Suid-Afrika. Om dit te kan doen, het hulle die woonhuis-voetspoor in die land, asook beskikbare houtbron­ne vir houthuise en hierdie tipe boumetode se moontlike uitwerking op die omgewing ontleed.

“Weens die beperkte bosdekking in Suid-Afrika, is daar dikwels ’n siening dat ’n aansienlike groei in die markaan­deel van houtgeboue nie moontlik is nie (ten minste nie van plaaslike houtbronne nie). Ons studie toon egter dat hierdie siening nie korrek is nie.

“Indien ons slegs die houtspaanders wat tans beskikbaar is, as ’n bron oorweeg, kan 39 646 houtwonings (30 523 huise en 9 123 woonstelle) jaarliks gebou word. Met die bebossingshulp­bronne sal 55 314 wonings (42 586 huise en 12 728 woonstelle) jaarliks gebou kan word. Dit is 1 203 meer as die gemid­delde nuwe geboue die afgelope 17 jaar.

“As ’n mens die hulpbron-potensiaal van houtspaanders en bebossing in ag neem, kan nagenoeg 95 000 houthuise (172% van die huidige aanbod) jaarliks gebou word.”

Crafford sê indien invoere en huidige pulp-, bord en ander houtbronne uitgesluit word, kan daar in die toekoms na raming 6,23 miljoen kubieke meter houtbronne beskikbaar wees vir houthuiskomponente. Hierdie hoeveel­heid houtbronne sal 6 019 Boeing 747’s of 55 377 dubbeldekkerbusse kan vul.

“Dit dui duidelik op die hulpbron-potensiaal van ’n groter hout-gegronde boubedryf in Suid-Afrika.”

Ondanks hierdie potensiaal word slegs 1% van die nuwe huise in die land met hout gebou, vergeleke met meer as 90% in lande soos die VSA, Kanada en Australië.

Crafford sê Suid-Afrika se produksie van nywerheidsrondehout (houtstompe wat vir alledaagse gebruik gesaag word) word hoofsaaklik vir pulp en bordpro­dukte (51%), gesaagde hout (24%) en spaanderuitvoere na Asië gebruik.

“Ons het die afgelope tien jaar gemiddeld 3,5 miljoen houtspaanders per jaar uitgevoer. Spaanderuitvoere is die waarskynlikste beskikbare bron wat moontlik vir die bou van houthuise gebruik sal kan word.”

Oor ’n residensiële houtboubedryf se uitwerking op die omgewing het ver­skeie studies volgens Crafford getoon dat hout nie net hernieubaar is nie, maar dit het ook die beste vertoon oor die meeste omgewingsfaktore in verge­lyking met alternatiewe boumateriaal soos staal en beton, en het veral goed presteer ten opsigte van die vrystelling van kweekhuisgasse.

“Ons basiese modelleringsontleding toon dat indien 20% van alle nuwe huise met hout gebou sou word, die hoeveelheid energie/fossielbrandstof wat vir produksie benodig word en die aardverwarmingspotensiaal van die residensiële boubedryf met 4,9% sal verminder. Indien alle nuwe konstruk­sies houtgebaseer sou wees, kan dit tot 30% verminder.

“Dit is ’n aansienlike afname indien ’n mens in ag neem dat die energie wat in die bou en gebruik van geboue ge­bruik word, na raming vir sowat 27% van die land se mensgemaakte koolsuur­gasvrystellings verantwoordelik is. Hout boumateriale kan help om die omge­wings­voetspoor van ons residensiële geboue te verminder.”

Aangesien daar nie ’n kultuur van ontwerp en bou met hout in Suid-Afrika is nie, bestaan daar ’n behoefte aan verdere navorsing wat ander uitwer­kings soos die skepping van bruto binnelandse produk (BBP), werkskep­ping en maatskaplike en ekonomiese vergelykings ten opsigte van ’n groeiende houtboubedryf insluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.