Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Groenskool word 20% groener

GreenX Engineering, die afwentelmaatskappy van die Universiteit Stellenbosch se inisiatiewe om die Laerskool Cloetesville in Stellenbosch met energiebesparende tegnologie toe te rus, het daartoe gelei dat dit die eerste skool in Suid-Afrika is wat ’n elektrieseprestasie-sertifikaat (EPC) ontvang. Die skool het ’n A-gradering vir elektriese verbruik van 17 kWh per vierkante meter gekry.

Die EPC is die hoogtepunt van harde werk en toewyding, ’n groot spanpoging en ’n sprong oor die laaste hindernis om sy doktorsgraad te voltooi, sê Jason Samuels, besturende direkteur van GreenX.

Samuels doen sy PhD onder toesig van Thinus Booysen, professor in elektriese en elektroniese ingenieurswese, en Saartjie Grobbelaar, medeprofessor in bedryfsingenieurs­wese, met die fokus op skole en hul energieverbruik; die skep van metodes om hul verbruik te verminder en stelsels om die skool meer doeltreffend te bestuur.

Samuels, Booysen en Grobbelaar het GreenX Engineering saam met die entrepreneur Mario Roos gestig met behulp van Innovus Tegnologie-oordrag, die US se innovasie-afdeling. Booysen en Grobbelaar is albei nie-uitvoerende direkteure van GreenX Engineering.

“Die eerste saadjie van GreenX Engineering is twee jaar gelede geplant nadat ek prof. Booysen oor die radio hoor praat het oor sy betrokkenheid by projekte om skole in en om Stellenbosch en die Paarl te help om water en elektrisiteit te bespaar. Ek het besef my gespesialiseerde maatskappy vir beligting en elektriese instandhouding kan ’n noodsaaklike vennoot vir Booysen se inisiatiewe by skole word,” het Roos gesê. Die gesprekke het begin.

Roos het gesê toe die wysiging van die Nasionale Energiewet van 1998 in Desember 2020 deur die minister van Minerale Hulpbronne en Energie geproklameer is – wat vereis dat gebou-eienaars die elektriese verbruik per vierkante meter teen 2022 moet publiseer – het hulle ’n gaping in die mark gesien om ’n maatskappy te stig wat kan verseker dat geboue aan hierdie nuwe vereiste voldoen.

As GreenX se tegniese direkteur bied Booysen die kundigheid en ervaring van die maatskappy om skole te help om meer energie-doeltreffend te word en hul elektrisiteits- en waterrekeninge te verminder. “Baie skole het nie finansiële of tegniese middele om hul energie- en waterbronne doeltreffend te bestuur nie. Ons het aanvanklik met dertien skole begin, en hierdie getal het tot 25 skole in die Stellenbosch- en Paarl-omgewing gegroei. Danksy die finansiering van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sowel as die US se sosiale impak- en transformasie-afdeling, kan ons hierdie skole toerus met energiebesparingstegnologie om hulle te help om hul energierekeninge te verlaag,” sê Booysen.

Roos se droom is om energie-doeltreffendheid by alle Suid-Afrikaanse skole te verseker en hul koolstofvoetspoor aktief te verminder. “Ons berekeninge toon dat ons 120 kg koolstofvrystellings per skool per dag kan verwyder. As ons dus ons program kan uitbrei om al 1 600 skole in die Wes-Kaap in te sluit, sal dit tot die verwydering van 90 miljoen kilogram koolstofvrystellings per jaar lei. ”

Roos glo hulle skep ’n bloudruk wat oor die hele land en internasionaal gedupliseer kan word. “Ons aanvanklike fokus is skole waarna ons na korporatiewe en regeringsgeboue oor die hele land heen sal uitbrei.”

Vir Grobbelaar sal die sakemodel wat hulle geskep het die maatskappy laat groei en ’n stewige skakel met die US se ingenieurswese-kundigheid behou. “Inisiatiewe soos hierdie bring die US se navorsing na die regte wêreld en verander mense se lewe, wat tans op skoolvlak begin – ’n plek waardeur alle mense in ’n stadium in hul lewe moet beweeg.”

Oorhandiging

Salie Abrahams, die adjunk-direkteur-generaal vir onderwysbeplanning van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het die skool se EPC-sertifikaat Donderdag (10 Junie) op ’n oorhandigingseremonie by Cloetesville Primêr in Stellenbosch aan Rodger Cupido, die skoolhoof, oorhandig.

Vir Cupido is die doelwit om ’n volhoubare en energiedoeltreffende skool te word, hoog op sy voorkeurlys. “Ons skool staan ook bekend as die Groenskool,” sê hy, met verwysing na die tydelike groen struktuur wat gedien het as die oorspronklike skoolgebou toe die skool in 1969 gestig is. “Nou is ons groen omdat ons energie-doeltreffend is.”

Prof. Stan du Plessis, uitvoerende bedryfshoof van die US, het Cloetesville Primêr gelukgewens met sy EPC-sertifikaat en gesê dit is baie simbolies om hierdie sertifikaat aan ’n skool te oorhandig. “Dit is nie my geslag nie, maar dié van my kinders wat daaronder gaan ly as ons nie ’n verskil aan ons omgewing maak deur energiebesparingsprojekte soos hierdie aan te pak nie. Ons sien met hierdie projek wat die gevolg is as ons idees na die mark neem – ons het wonderlike maatskappye soos GreenX tot stand laat kom, wat ’n skool soos Cloetesville Primêr kan help om 20% op sy maandelikse energierekening te bespaar.”

Abrahams sê daar is geweldig baie trots in hierdie benadering om ’n vennootskap tussen die WKOD, plaaslike owerhede, die universiteit, die skool en die private sektor te vorm. “My dankbetuiging gaan aan almal wat tot hierdie projek bygedra het en aan die leiding van hierdie skool wat, ondanks uitdagings en beperkings, dit kon laat gebeur, en ons kinders aan die ontwikkeling van ’n ondernemingsgees kan blootstel deur aan hulle te wys hoe jong entrepreneurs vlug kan gee aan hul idees. Ons hoop om binnekort deel te wees van ’n groter projek wat hieruit sal lei.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.