Ambassadeurs, ondersteuners en administratiewe personeel van die Hanna Charity & Empowerment Foundation (Wes-Kaap) het Saterdag 26 Januarie ná ’n toer deur Smartietown in Cloetesville by Beyerskloof bymekaargekom om die organisasie se finansiering en projekte vir 2019 te bespreek en te beplan.
Dit sluit verskeie projekte in wat fokus op die hele gemeenskap – vroue, kinders, ’n voedings- en klereskema sowel as voortdurende steun aan die gemeenskapslede.
Johan de Jager, die areabestuurder, en Annette Havenga, die projek-assistent, is dit eens dat hul projekte moontlik gemaak word deur die volgehoue ondersteuning van die publiek, individue en maatskappye.
“Ambassadeurs gebruik hul platform om ’n stem te wees vir die mense in nood. Verskeie geldinsamelings word beplan om te help met die reusetaak om die nodige finansiering te verseker,” sê Havenga.
“Die eerste projek is ’n musiekfees Woensdag 6 April. Verskeie kunstenaars soos Rooies, Jaco Losgelaat, Die Rooiwynprofeet en Gert Zandberg tree by hierdie geleentheid by The Barn at Paarl Valley op.
“Dit is ’n ideale geleentheid vir die hele gesin met musiek en sommer net lekker kuiervermaak vir volwassenes sowel as kinders,” sê Havenga.
Die geld sal vir die Pikanini-speelgroep in Smartietown se behoeftes gebruik word. Hier word ongeveer 30 kinders daagliks versorg, gevoed en van basiese grondslagonderrig voorsien.V Vir nog inligting oor projekte of beplande gesellighede, kontak johan@hannacharity.org of cape@hannacharity.org