Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Hoekom mag taxi’s, maar ons mag nie?’

Eienaars van hotelle, gastehuise en restaurante in Stellenbosch sê die nasionale inperkingsreëls, veral die verbod op die verkoop van alkohol en die verbod op reis vir ontspanningsdoeleindes, maak dit vir hulle moeilik om ’n bestaan te maak.

Talle mense in die gasvryheids- en restaurantbedryf het verlede Woensdag (22 Julie) Pleinstraat aan albei kante volgepak om aan die landwye #Jobssavelives-betoging deel te neem. Die betoging is deur Visit Stellenbosch gereël.

“Dit is net nie lewensvatbaar vir ons om nou oop te wees nie. Ons is op ’n wynplaas. Mense kom na ons om die omgewing met ’n glas wyn te geniet. Die meeste restaurante maak staat op die winsgewendheid van alkohol-verkope, in ons geval spesifiek die verkoop van wyn,” vertel Allan Ware, bestuurder van Neethlingshof-restaurant.

Die restaurant is reeds sedert sowat twee weke voor die begin van die inperking gesluit.

Riel Meynhardt, die eienaar van Evergreen Manor & Spa, sê hulle het in Junie slegs sewe gaste gehuisves terwyl hulle gewoonlik sowat 200 gaste per maand in die winter ontvang.

“Ons kan nie daarmee oorleef nie. Ons het aan die begin van Junie vir sakereisigers heropen, maar daar is geen vraag nie. Dis baie moeilik.”

Meynhardt sê hy verstaan internasionale reisigers en mense uit ander provinsies word nie nou toegelaat nie, maar sê die regering moet mense toelaat om ten minste in die Wes-Kaap vakansie te kan hou. “Dit sal reeds ’n verskil maak. Ons groot bekommernis is die feit dat die regering alles op die laaste oomblik besluit. As ons nie einde Julie vir die buitelandse mark sê ons gaan ons grense byvoorbeeld die einde van November heropen nie, gaan niemand vir die somer bespreek nie.”

Ané Spies en Liesl Swart, twee van die eienaars van Twice Central-gastehuis, sê wat tans in die gasvryheidsbedryf gebeur, het ’n rimpeluitwerking op ander bedrywe. “Dit gaan oor al die mense en diensverskaffers wat staat maak op die gastehuis se besigheid, insluitend die mense by wie ons vrugte koop, die wassery wat ons gebruik en die restaurante waar ons gaste elke dag gaan eet. Dis als ’n ekonomiese inspuiting vir ons dorp en dit gebeur nie nou nie.”

Die gastehuis is oop, maar kry baie min besprekings. “As ons alle voorsorg tref, hoekom kan ons nie open nie, maar mense mag in ’n vol minibustaxi sit? Hoe wil hulle hê moet ons ’n bestaan maak? Drie weke was oukei, maar daarna kon ons land dit nie meer vir ’n oomblik verder dra nie. Ons stuur op ’n ramp af,” vertel Swart.

Nina Daniels, hoofbestuurder van Oude Werf-hotel, sê hulle het aanvanklik vir mense wat hulself wou afsonder, oopgemaak, maar het geen gaste vir hierdie doeleindes gekry nie.

Hulle het toe vir sakereisigers oopgemaak. “Ons was gelukkig om oor die afgelope paar weke ’n paar besprekings te kry, maar dit is nie naastenby genoeg om al ons personeel aan te hou nie. Junie was ’n baie stil maand. Gegewe die stand van toerisme en beperkings op reis moes ons ons werksaamhede afskaal.”

Volgens Daniels moes hulle noodgedwonge die hartseer besluit neem om ’n aansienlike aantal personeel af te dank.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.