Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Honger magies stil danksy vrygewige leerder

Karlien en Kandas-kleuter­skool se kermis het weer vanjaar gesorg dat Grumbling Tummies ’n stewige finansiële hupstoot kry.

’n Bedrag van R10 800 is Vrydag 4 Mei aan Madeleine Basson, ’n matriekleerder van Rhenish Girls’ High oorhandig. Madeleine het dié organisasie op die been gebring.

Grumbling Tummies is in 2014 begin toe Madeleine besluit het om broodjies te maak en vir die kinders wat honger skool toe gaan uit te deel.

Dié nood was egter so groot dat dit in 2015 nodig was om kragte saam te snoer met Stellenbosch Voedingsaksie (SVA) wat elke week maaltye en kosvoorrade aan sowat 5 000 behoeftige mense verskaf.

SVA bied weekliks ondersteuning aan sowat 4 000 skoolkinders, crèches, nasorgsentrums en kulturele- en sportuitreikprogramme in 12 gemeenskappe in die Stellenbosch-omgewing.

Liesel Koen (Stellenbosch Voedingsaksie) en Madeleine Basson (Grumbling Tummies).

Die organisasie het vanjaar ook leer­onder­steuningsprogramme in Devonvallei en Klapmuts bygekry wat na kinders uitreik wat sukkel met lees en nie by die normale kurrikulum kan bybly nie.

“Dit is vir ons ’n voorreg om sulke programme met voeding te kan ondersteun,” sê Liesel Koen, SVA se projekbe­stuurder. Koen sê Grumbling Tummies het SVA getrou met gereelde maandelikse bydraes onder­steun waarna daar saam besluit is wat met elke bydrae gedoen sou word.

“Grumbling Tummies het gehelp om toerusting vir kook by nuwe of bestaande voedingspunte asook kosvoorraad aan te koop. Verder het die projek dit ook moontlik gemaak om ’n groentetuin­projek by Nietvoorbij op die been te bring deur tuingereedskap, saad en kunsmis te finansier wat nodig was om nege groentetuine suksesvol te kon vestig.

“Grumbling Tummies het ons definitief gehelp met ons taak om die kinders in ons gemeenskap te voed. Die projek het ons ook gehelp om die vrywilligers in die gemeen­skappe te bemagtig deur die voorsiening van goeie toerusting sodat hulle beter geriewe vir die voorbereiding van die maaltye vir die kinders kon hê.”

Madeleine gaan hierdie jaar eers Grumbling Tummies op ys sit sodat sy op haar laaste skooljaar kan fokus.

Sy is egter nie so hartseer daaroor nie en sê sy is opgewonde oor wat die projek reeds bereik het en opgewonde oor alles wat nog bereik gaan word wanneer sy die projek weer gaan aanpak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.