Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Hou aan uitreik ná die inperking’

As die eienaar van ’n klein sakeonderneming is Stephanie Heneke van Idasvallei self negatief deur die Covid-19-pandemie geraak.

Stephanie ploeg egter sedert vlak 5 van die nasionale inperking terug in haar en ander gemeenskappe.

Volgens Stephanie moes haar onderneming, Steffies Laundry, reeds van middel Maart sluit omdat die meeste van haar kliënte studente is wat die dorp verlaat het.

“Dit was ’n groot skok vir my. My wassery is 11 jaar oud en dit was ’n suksesvolle onderneming. Ek het nog nooit ’n shutdown beleef nie. Ek het ’n hele week gehuil en nie geweet wat gaan gebeur nie.”

Stephanie vertel haar interaksie met ’n vrou een Sondagmiddag het haar laat besef hoe gelukkig sy is om nog iets om te eet en ’n dak oor haar kop te hê. “Dit was ’n ou tannie van Pniël. Sy het gesê al wat sy soek, is ’n kers en ’n boksie vuurhoutjies. Ek het met haar gesels en aan die einde van die gesprek het sy gesê: ‘My kind, moenie bekommerd wees oor jouself nie. Alles gaan regkom. Jy is die lig vir die gemeenskap.’

“Dit was die antwoord vir my. Moenie kyk na jou eie omstandighede nie; daar is mense met niks nie. Van daardie dag af het ek begin terugploeg in die gemeenskap. Ek het weggekyk van my eie omstandighede en begin kyk wat die nood is en van my eie kos gegee. My man het eendag gesê ek moet stadiger; ons het self ’n verlies aan inkomste.”

Stephanie het op sosiale media gevra of ander mense ook wil uitreik. “Die mense het my regtig verstom. Mense het hul harte, hande en beursies ten spyte van hul omstandighede oopgemaak.”

Stellenbosch Unite, wat sedert die begin van die nasionale inperking kospakkies aan behoeftiges voorsien, het Stephanie genader om as koördineerder op te tree.

“Ek het saam met my kerkleiers gewerk – pastoor Simon en pastoor Godffrey Martin – om die nood in die gemeenskap te identifiseer. Ek het kospakkies van Stellen­bosch Unite ontvang om te versprei. Plaas inwoners het my ook begin kontak. Linda Williams het elke Vrydag ’n pot sop uit haar eie sak gemaak en maak dit steeds.

“Lucinda Evans, die leier van die groep One Billion Rising South Africa, het ook baie vir my gedoen.

“Ek is regtig dankbaar vir al die borge wat my gehelp het en aanhou help.”

Stephanie het meer onlangs met ’n klereprojek begin en het reeds verlede Vrydag (19 Junie) op PJ Roux-plaas in Vlottenburg begin uitdeel.

Sy deel steeds kospakkies vir Stellenbosch Unite en ook uit haar eie sak uit. “Ek wens ek kon die hele gemeenskap help. Die mense wat ek ontmoet het en die nuwe gemeenskappies wat op my pad gekom het, is vir my ’n vreugde in die tyd van Covid-19.”

Die nood is steeds groot, vertel Stephanie. “Dit gaan baie swaar daar buite. Daar is mense met wie dit baie moeilik gaan en mense wat alles verloor het.”

Stephanie se besigheid het weer heropen, maar die studente is nog nie terug nie. Sy gaan egter voort om so ver as wat sy kan te help.

Sy wil graag die gemeenskap aanmoedig om nie op te hou om uit te reik nie, selfs wanneer die pandemie en inperking verby is.

“Wees daar vir die wat dit nodig het,” raai sy mense aan.

“My begeerte is om te begin kook en warm maaltye aan gemeenskapslede te voorsien. Ek kan dit net met die hulp van borge doen. Ek sal dit so ver as wat ek kan uit my eie sak doen, maar is afhanklik van borge op die pad vorentoe.”V As jy graag winterklere, komberse, skoene of enige nie-bederfbare kosprodukte wil skenk, kontak Stephanie by 082 303 2563.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.