Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hou satellietdata gratis vir goeie doel

’n Besluit deur die United States Geological Survey (USGS) om die moontlikheid te ondersoek van kommersialisering van toegang tot satellietdata wat deur bewarings­agent­skappe gebruik word, kan moontlik bewaringspogings oor die wêreld heen, spesifiek in Suid-Afrika en die res van Afrika, negatief beïnvloed.

Dít is die mening van dr. Helen de Klerk, ’n senior dosent van die depar­tement geografie en omgewingstudies by die Universiteit Stellenbosch (US), en dr. Zoltan Szantoi, ’n medenavorser by dieselfde departement.

Hul kommer is openbaar gemaak deur ’n brief wat in samewerking met vakkundiges van oor die wêreld geskryf is.

Die brief is onlangs in die vooraanstaande internasionale vaktydskrif Science (13 Julie 2018, vol. 361, uitgawe. 6398, bl. 139–140, doi: 10.1126/science.aau2650) gepubliseer.

Volgens die vakkundiges het die beskikbaarheid van gratis hoëresolusie-satellietdata, wat in 2008 deur die USGS moontlik gemaak is, bykans ’n omwenteling in die vermoë van omgewingsbewaarders teweeggebring om biodiversiteit wêreldwyd te monitor deur met hierdie data veranderinge waar te neem, bewaringsprioriteite te stel en hul visier op bewaringsoptrede te rig.

“Hierdie openbare stelling deur vakkundiges op die gebied van bewaring en ekologie en die afstandwaarnemings- en georuimtelike domeine is daarop gemik om ’n swaargewigberoep te doen op die gratis beskikbaarheid van hoëresolusie-satellietdata vir almal, aangesien dit ’n invloed sal hê op ons vermoë om die habitatte van spesies soos watervoëls en sjimpansees te karteer en te monitor.

Biodiversiteit onderhou ekologiese funksionering en die monitering daarvan is noodsaaklik aangesien dit ’n impak het op voedselsekerheid, natuurlike hulpbronne soos water, landbou en klimaatsverandering, om net ’n paar te noem,” voeg De Klerk by.

“Om van verbruikers te verwag om te betaal, sal hierdie beelde buite bereik van omgewingsbewaarders plaas. Dit sal die ontleding van tydreekse (reekse numeriese datapunte wat oor ’n tydinterval gemeet word) tot stilstand bring, wat nuttig is in die monitering van die gevolge van klimaatsverandering en landbedekkingverandering en die aardmonitering van kuste, wat waarskynlik die bereiking van die Verenigde Nasies se 17 volhoubare ontwikkelingsdoelwitte waarna talle lande streef, in die wiele sal ry.

“Al verskaf die Sentinel-2-satelliete deur die Europese Kommissie soortgelyke data gratis, word waarnemings in sekere gebiede, veral in Ekwatoriaal-Afrika, deur wolkbedekking belemmer, en dus is Landsat se beelde absoluut noodsaaklik om genoeg inligting in te samel vir tydreeksontleding en die monitering van landbedekkingverandering,” sê Szantoi.

Uit die 17 volhoubare ontwikkelingsdoelwitte verwys nege na volhoubaarheid ten opsigte van voedselsekerheid, waterhulpbronne, skoon energie, volhoubare stede en gemeenskappe, verantwoordelike verbruik en produksie, klimaatsverandering, die oseane, seë en mariene hulpbronne en ekostelsels.

De Klerk en Szantoi sê onlangse nuus dat die USGS ’n advieskomitee byeengeroep het om te bepaal of gebruikers van die diens bereid sou wees om vir verhoogde spektrale en spesiale resolusiebeelde te betaal, is “uiters kommerwekkend” vir sowel akademici as bewaringspraktisyns.

Die besluit om weg te doen met gratis toegang sal ’n impak hê op gebruikers se vermoë om belangrike habitatte, insluitende woude en fynbos, te monitor om by te dra tot goeie besluitneming en beplanning, asook om waarskuwings uit te reik wanneer beskermde gebiede en ander natuurlike landskappe deur onwettige aktiwiteite benadeel word.”

Volgens die vakkundiges beleef biodiversiteit ’n krisis, met grootteordes van uitsterwingskoerse hoër as agtergrondvlakke. Onderbefondste omgewingsbewaarders moet hul beperkte hulpbronne doeltreffend aanwend.

Die USGS se besluit om data gratis beskikbaar te stel, is deur die Copernicus-program van die Europese Kommissie gevolg, wat gevolglik ook sy data beskikbaar gestel het. Hierdie hulpbronne biodiversiteitsnavorsing bevorder.

Hulle voer voorts aan dat assesserings van omgewingsveranderinge soos ontbossing nou geredelik beskikbaar is. Die huidige ruimtelike en spektrale resolusie van Landsat-data maak dit geskik vir talle bewaringstoepassings, en hoewel dit nie altyd ideaal is nie, gebruik pragmatiese navorsers met beperkte hulpbronne dit gereeld.

Die vakkundiges is van mening dat die USGS daadwerklik aangespoor moet word om sy posisie te heroorweeg en om voort te gaan om data van die Landsat-program gratis aan alle gebruikers beskikbaar te stel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.