Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Inwoners keelvol oor krag

Party inwoners van Pniël en Johannesdal is gefrustreerd met die swak kragnetwerk- en infrastruktuur, veral ná ’n voorval Dinsdag 8 September in die middel van die nag toe ’n lewendige kragkabel in Proteastraat aan die brand geslaan het.

“Kinders kon seergekry het. Verbygaande motors kon aan die brand geslaan het. Die lewendige kabel is met ’n stuk draad aan ’n ander paal vasgemaak. Die paal staan in die pad in plaas van op die sypaadjie. Wie by die munisipaliteit het dit goedgekeur? Wie het dit afgeteken?” vra die inwoners.

Inwoners, wat verkies om anoniem te bly, het ’n komitee gestig om verskeie gemeenskapsprobleme aan te pak en het reeds vir ’n geruime tyd voor die voorval probeer om ’n vergadering met die relevante beamptes van Stellenbosch-munisipaliteit te reël.

“Aanmekaar wanneer die wind ’n bietjie waai of dit reën ’n bietjie te hard, het ons ure lank kragonderbrekings.” Hy voeg ook by dat kragonderbrekings vir ure voor of ná beurtkrag weens probleme met die kragnetwerk plaasvind.

’n Vergadering met raadslid Quintin Smit, burgemeesterskomiteelid van infrastruktuurdienste, die wyksraadslid Malcolm Johnson en die inwoners het wel op 10 September plaasgevind. Op dié vergadering is alle uitdagings sowel as die pad vorentoe bespreek.

Volgens inwoners kla hulle reeds jare lank oor die swak kraginfrastruktuur in Pniël en Johannesdal.

’n Oordrag van die elektriese netwerk onder die bestuur van Drakenstein-munisipaliteit na Stellenbosch-munisipaliteit het op 15 Februarie verlede jaar plaasgevind.

Die proses het meer as R17,5 miljoen gekos.

“Die munisipaliteit het ’n professionele konsultant aangestel om ondersoek na die omvang van die uitdagings in te stel wat met die verouderde kragnetwerk ondervind word. Uit hierdie ondersoek is ’n volledige verslag saamgestel,” sê Stuart Grobbelaar, kommunikasiebestuurder van Stellenbosch-munisipaliteit.

Hy sê verder. “Die verslag dui daarop dat die kragnetwerk te verouderd is om slegs nuwe kragbokse te installeer. Dit is so verouderd dat die netwerk nie met moderne tegnologie akkordeer nie. Die kragnetwerk sal in geheel vervang moet word en die proses om dit te doen, sal oor ’n tydperk van vier jaar geskied. Intussen word kraglyne sover as moontlik herstel of vervang. Bome en takke wat gereeld omwaai of op kraglyne val, word teruggesnoei of verwyder om kragtoevoer te verseker.”

Inwoners meen egter die verslag moes reeds gedoen geword het voordat die munisipaliteit die beheer van die kragnetwerk oorgeneem het.

“As iemand iets oorvat, gaan jy eers ondersoek wat die probleme is. Die munisipaliteit het te lank gewag om die verslag te doen. Hulle moes reeds ondersoek oor die probleem ingestel het, voordat hulle die kragnetwerk oorgeneem het, sodat daar behoorlik vir opgraderings begroot kon word en sodat hulle die probleem dan kon oplos.”

Inwoners is ook ongelukkig oor die feit dat hulle vier jaar moet wag vir die probleme om opgelos te word.

“Hoekom moet ons vier jaar wag? Ons het die probleem vandat ons kan onthou. Betaal ons minder dat die probleem wat al jare lank hier is nie uitgesorteer kan word nie? Wat maak Pniël en Johannesdal anders as Stellenbosch? Hier is sakeondernemings wat as gevolg van die gereelde probleme met die krag toegemaak het. Dít het tot werksverliese gelei, so die probleem het ’n uitwerking op alles.”

Gemeenskapslede het ook ’n tydlyn van die opgraderings van Smit versoek. Volgens Grobbelaar is die elektrisiteit-departement tans besig om ’n volledige program te finaliseer vir die opgradering en instandhouding van die elektrisiteitsnetwerk in die gebied.

“Hierdie program of tydlyn sal aan die gemeenskap verskaf word sodra dit gefinaliseer is.

“Dit sal ook deur die wyksraadslid Malcolm Johnson direk met die gemeenskap gedeel word. Daar is reeds R15 miljoen begroot vir hierdie opgradering oor die volgende drie jaar.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.