Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Is beter, groter, mooier, duurder Kersgeskenke die antwoord?

Dit is weer “daardie” tyd van die jaar. Oral blink versierings in die winkelvensters, en die advertensies in brosjures en tydskrifte lok mense om deel te word van die Kersfees-hype.

Kinders beplan geskenklysies aan Kersvader terwyl ouers se angsvlakke deur die dak vlieg as gevolg van die finansiële verwagtinge van hul spruite.

Die druk wat ouers in die feestyd ervaar om hul kinders met duur geskenke gelukkig te hou, het al verskeie besprekingspunte uitgelok. Dit blyk onder meer dat ouers ’n universele vrees vir hul kinders se teleurstelling ervaar. Die angs rakende kinders se ontevredenheid omdat die buitensporige items op hul Kerswenslysies oorgeslaan is, laat die persepsie maklik by die ouer ontstaan dat ’n “goeie” ouer beter, groter, mooier en duurder geskenke aan hul kind behoort te gee. Die bekostigbaarheid van geskenke behoort klaarblyklik geen rol te speel nie.

Waarom ervaar ouers hierdie vrese en opvattings oor hul kinders se geluk? Wat is dit wat maak dat hulle hulself in die feestyd aan sulke ongesonde spanning onderwerp?

Een van die antwoorde is dat talle ouers hul eie emosies en verwagtinge op hul kinders projekteer. Hulle koppel hul eie geluk aan dié van hul kinders en probeer ’n leemte binne hulself vul deur die kinders met duur geskenke te oorlaai.

Dit is ’n resep vir ’n bose kringloop.

Hierdeur leer kinders dat daar ’n verband tussen geluk en materiële dinge is, terwyl die meeste ouers eintlik wil hê dat kinders hul geluk in hulself en in die samesyn met ander moet vind.

Min mense onthou die geskenke wat hulle in hul kindertyd ontvang het, terwyl byna almal met nostalgie terugdink aan die feestye saam met hul familie en vriende.

Sommige ouers het dit nog altyd ’n “beleid” gemaak dat gesinslede slegs klein geskenkies wat met sorg uitgesoek of self gemaak is, vir mekaar gee.

Probeer dus hierdie Kersfees om eerder goeie en gelukkige herinneringe te skep deur bewyse van omgee en prettye saam, in plaas daarvan om die klem op die perfekte geskenk te plaas. Dit is dié tye – en nie die nuwe blink geskenk wat tien minute later vergete in die kas bly lê nie – wat kinders vir altyd sal koester en wat stories skep om eendag aan hul eie kinders oor te vertel.V Karin Gerber is ’n opvoedkundige sielkundige in Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.