Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Is ons alleen?

Eensaamheid het nie altyd te doen met die hoeveelheid mense om jou nie – jou emosionele en intellektuele verbintenis met ander en hoe gekonnekteer jy aan die mense in jou omgewing voel, kan ook bepaal of jy eensaam gaan wees of nie.

Alleenheid (waar ander mense fisiek afwesig is) kan dus eensaamheid veroorsaak, maar om alleen te wees, maak ’n mens nie noodwendig eensaam nie. Hoewel dit vir sommige mense ’n keuse is om alleen te wees, kies niemand regtig om eensaam te wees nie.

Om eensaam te voel, is om ongelukkig, geïsoleerd, verwerp, hopeloos en hartseer te voel. Die gevolge hiervan op mense se lewensgehalte en die ekonomie is beduidend.

Elke individu is “gekodeer” om te wil behoort.

Tans ervaar mense isolasie in só ’n mate dat wêreldwyd van ’n eensaamheidepidemie gepraat word. Die Verenigde Koninkryk het byvoorbeeld onlangs ’n minister vir eensaamheid aangestel. En in Kanada, wat ’n lae voorkoms van geweld, misdaad en armoede het, het die regering steeds amper $50 miljoen bewillig om eensaamheid te bestry.

Die ervaring van eensaamheid hou hoë gesondheidsrisiko’s in. Die nuutste navorsing bevind dat kroniese eensaamheid ’n mens se lewensverwagting met tot 26% kan verkort. Afgesien van die risiko van depressie en substansmisbruik, is die risiko vir hoë bloeddruk, hartprobleme, beroerte, demensie en selfs kanker aansienlik hoër by mense wat eensaam is. Sommige gesaghebbende studies het selfs bevind dat die fisieke gevolge van eensaamheid groter gesondheidsgevare inhou as vetsug of nikotienverslawing.

Geen inkomstegroep, kultuur of mens is gevrywaar van die uitwerking van eensaamheid nie. Dit blyk dat jong mense tussen 16 en 25, asook mense ouer as 70, ’n groter gevaar loop om eensaamheid intens te ervaar, maar niemand spring hierdie monster vry nie.

As ’n mens die statistiek konserwatief vertolk, kan met vertroue gesê word een uit elke vier mense in Stellenbosch gaan gebuk onder ’n onhoudbare gevoel van eensaamheid.

Dit is ’n stryd om te behoort, maar hoe meer ’n mens ervaar dat jy verstaan word en dat jou belewenisse of menings gedeel word, hoe minder eensaam sal jy voel. Probeer dus om kontak te maak met ander mense op ’n manier wat vir jou werk.

Ondersteuningsgroepe, buurtaktiwiteite, geloofs-, sosiale of belangegroepe en vrywillige werk by liefdadigheidsinstansies kan voorbeelde wees van waar om die ervaring van verbintenis en om te behoort op te doen.

Al is die internet vol slaggate, kan sosiale forums, aanlyn geselsprogramme en romantiese bekendstellingswebwerwe van groot hulp wees.

Eensaamheid is ’n vyand en ter wille van jou fisieke en emosionele welsyn moet dit aktief bestry word.V Louis Awerbuck, is ’n kliniese sielkundige van Stellenbosch

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.