Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Jamestown-grondstorting ontstel

Inwoners van Jamestown is ontsteld oor bourommel wat in hul omgewing gestort word. Die bourommel is na bewering afkomstig van uitgrawings vir ’n parkeergarage vir die nuwe Capitec-hoofgebou wat in Technopark opgerig word.

Besorgde lede van die wyk het ook hul kommer uitgespreek oor die bou van die parkeergarage, wat skynbaar reeds aan die gang is, ten spyte daarvan dat ’n openbare deelnameproses nog uitgevoer word.

“Die aansoek vir die alleenstaande parkeergarage sirkuleer nog vir openbare kommentaar. Eers wanneer al die kommentaar van geïnteresseerde en geaffekteerde partye ontvang is, sal dit aan die munisipale beplanningstribunaal (MBT) vir besluitneming voorgelê word. Die bou van die parkeergarage is dus nog nie goedgekeur nie,” het Stuart Grobbelaar, die munisipale woordvoerder, by navraag gesê.

“Goedgekeurde bouplanne bestaan wel vir die bou van ondergrondse (kelder-) parkering as deel van die Capitec-gebou, waarvoor ’n omgewingsbestuursplan ook ingedien is.

“Die aansoekdokumentasie wat vroeër vanjaar by die MBT gedien het, het aangetoon dat uitgrawings vervoer sal word na plaas 387 direk wes van die konstruksieterrein. Die voordele van hierdie reëling is dat konstruksievoertuie nie enige openbare paaie hoef te kruis nie en dat die publiek en sakeondernemings nie aan steurnisse soos geraas en stof blootgestel sal word nie. Om te verseker dat hierdie reëling nie enige regulasies met betrekking tot die nasionale omgewingsbestuurswet (Wet 107 van 1998) oorskry nie, het die aansoeker ’n omgewingskonsultant aangestel om wetlike nakoming te verseker. Die kontrakteur het intussen die munisipaliteit genader om uit te vind of daar enige gebiede binne die munisipale gebied is waar opvulling nodig is en die dam bo Jamestown is geïdentifiseer as ideale terrein omdat dit ’n gevaar vir kinders inhou. Boumateriaal is onwettig deur ander mense daar gestort en wetstoepassing in die gebied is reeds verskerp om hierdie voorvalle te voorkom.”

Grobbelaar wou ook nie kommentaar lewer op gerugte dat die betrokke wykskomitee opdrag gekry het om geen besware teen die bou van die parkeergarage te opper nie.

“Ons kan nie kommentaar lewer op gerugte rakende die wykskomitee nie. Die wykskomitee is ’n onafhanklike komitee wat ingevolge sy mandaat onder meer ’n adviserende rol vertolk oor aangeleenthede wat die wyk raak via die wyksraadslid aan die raad en in openbare deelnameprosesse wat gevolg word,” het hy gesê.

In ’n sterk bewoorde brief aan sy wykslede skryf Dale Simons, ’n wyksraadslid vir Jamestown, dat die hele omgewing deur die storting van die grond uit die Capitec-uitgrawings verander word.

“As ’n lid van die wykskomitee wat vir hierdie omgewing verantwoordelik is, glo ek die munisipale administrasie het deur hierdie optrede sy algehele miskenning van die inwoners van Jamestown getoon,” skryf Simons.

“Ons het geen amptelike kommunikasie van hulle ontvang nie en daar was geen poging om met ons te praat nie. Ek sal baie verbaas wees as iemand in der waarheid verantwoordelikheid vir hierdie omgewingsgemors gaan aanvaar. Dit is nie net grond uit die uitgrawings wat hier gestort word nie – daar is gemengde afval van beton en selfs motorbande wat nou hier gestort word. Ons reg om in ’n skoon en gesonde omgewing te woon, is geskend.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.