Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Jong barbier se drome word waar

Toe Peter Cupido van Idasvallei sy werk as tegniese assistent opgee om sy eie haarkappery te begin, het hy ’n gemeenskap op die been gebring waar mans bymekaarkom vir gehaltetyd en ’n gladde skeer.

“Ek het my onderneming, Peter’s Barber Shop, in 2017 geopen, maar ek doen al die laaste agt jaar sake. My belangstelling in haarkappery het in 2005 begin toe ek mans se hare by my ouers se werf gesny het om ekstra geld te verdien. Ek het my amptelike barbiersertifikaat in 2016 verkry, en van daar af het ek geweet dat dit nie meer net my stokperdjie was nie, maar my inkomste geword het. Nou het ek twee voltydse barbiers en ’n deeltydse assistent in diens.”

Peter se kliënte is meestal tussen 21 en 35 jaar oud, en hy sê barber shops beleef die afgelope paar jaar ’n herlewing en verteenwoordig nostalgie sowel as manlikheid.

“Mans gee deesdae meer om oor hul voorkoms, en koop in op die idee dat ‘as jy goed lyk, voel jy goed’. Die moderne haarstyle en tendense lok mans in hul massas na barbiere. Unisex-haarsalonne, wat eens hoogmode was, was slegs daarop toegespits om ’n vinnige en doeltreffende diens te lewer, waar die huidige barbiere meer daarop ingestel is om mans se hare behoorlik te sny en hul kliënte te pamperlang. Barber shops is tasbaar en persoonlik – jy kan nie ’n haarsny aanlyn koop nie!”

Peter is een van 32 kleinsake-eienaars in Khayelitsha, Langa, Mitchell’s Plain, Stellenbosch en Guguletu wat gekies is om deel te neem aan die geborgde kleinsake-akademie (SBA) se ontwikkelingsprogram wat deur die Universiteit Stellenbosch se bestuurskool (USB) aangebied word.

Die SBA voorsien, saam met die borge Distell en Absa, ’n platform vir kleinsake-eienaars om sake-, finansiële- en bedryfskennis oor ’n tydperk van nege maande op te doen en sodoende hul sakeondernemings uit te bou en te versterk.

Die SBA skep netwerkgeleenthede en bied mentorskapprogramme aan waar elke deelnemer saam met ’n USB-alumnus werk.

“My groei het organies plaasgevind, met verwysings van gelukkige kliënte my sterkste bemarkings­instrument,” sê Peter.

“My verkiesing vir die SBA-program het my perspektief oor ’n verskeidenheid onderwerpe verander. Ek het kennis opgedoen oor hoe om die finansiële kant van my onderneming beter te struktureer, wat my insig gegee het oor wat regtig in my onderneming aan die gang is.”

Peter’s Barber Shop is byderwets met ’n oudtydse dog klassieke styl. Die salon, wat strategies naby ’n besige aansluiting geleë is, is op die perfekte plek om instapkliënte in gereelde kliënte om te skakel. Peter sê sy onderneming groei steeds, wat beteken hy is verantwoordelik vir meeste van die harde werk.

“Ek moet my personeel oplei in kliëntediens, hoe om versigtig met toerusting te werk en hoe om ’n diens delikaat en met vaardigheid te lewer. Om elke hoed self te moet dra, kan uitdagend wees. My grootste uitdagings tot nou was om die kontantvloei te bestuur, personeel aan te stel en my tyd te bestuur. Maar kennis is mag en ek is positief oor die toekoms.”

Sy raad vir kleinsake-eienaars is: “Omring jouself met mense wat kenners in hul veld is om beter insig te kry. My onderneming gaan nie net oor hare sny en baarde versorg nie – daar is menslike hulpbronne, bemarking, finansiële beplanning en marknavorsing. Ek kan nie ’n kenner op elke gebied wees nie, so dis noodsaaklik om met die meesters te praat. Die belangrikste is om aan jouself en jou visie te glo. Passie sal jou vorentoe dryf.”

Peter se droom is om ’n opleidingsentrum te open waar hy werklose jongmense kan leer hoe om ’n professionele barbier te word, asook om sy onderneming na ander sakesentrums in die Wes-Kaap uit te brei.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.