Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kaalvoetkinders het beter balans, US-studie

’n Studie deur Suid-Afrikaanse en Duitse navorsers het bevind dat kinders wat kaalvoet loop, beter balans het en ook verder kan spring as kinders wat skoene dra.

“Ons navorsing het getoon dat gereelde fisieke aktiwiteite sonder skoene voordelig kan wees vir die ontwikkeling van spring- en balansvaardighede, veral tussen ses en tien jaar oud,” sê prof. Ranel Venter van die departement sportwetenskap in die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (SU).

Venter en kollega dr. Elbé de Villiers het saam met navorsers van die Universiteit van Jena en die Universiteit van Hamburg gewerk. Hul studie, wat tussen Maart 2015 en Junie 2016 in Suid-Afrika en Duitsland gedoen is, is onlangs in die vakjoernaal, Frontiers in Pediatrics, gepubliseer.

Venter sê die doel van die navorsing was om vir die eerste keer die verband tussen kinders wat kaalvoet groot word of skoene dra en die ontwikkeling van motoriese vaardighede gedurende die kinderjare en adolessensie te evalueer. “Sover ons weet het geen studie nog die moontlike verhouding tussen gereelde aktiwiteite wat kaalvoet uitgevoer word en motoriese vaardighede ondersoek nie.”

Altesaam 385 kinders wat gereeld kaalvoet loop en 425 kinders wat skoene dra, is in skole in landelike en stedelike gebiede in die Wes-Kaap, Suid-Afrika en Noord-Duitsland gewerf. Die kinders was tussen ses en 18 jaar oud.

Venter sê die twee groepe is gekies vanweë hul verskillende skoeiselgewoontes.

“Waar Suid-Afrikaanse kinders gewoonlik gedurende die dag kaalvoet loop, dra byna alle Duitse kinders skoene gedurende skooltyd en met die meeste ontspannings­aktiwiteite.”

Slegs dié wat op skool en by die huis of in sport- en ontspanningsaktiwiteite kaalvoet was, is as gereelde kaalvoetlopende kinders beskou. Die groepe moes vir minstens 120 akkumulatiewe minute per week aan fisieke aktiwiteite deelneem en hulle moes nie enige ortopediese, neurologiese of neuromuskulêre toestande wat die motoriese prestasie kan beïnvloed, hê nie.

Venter sê al die kinders het balanstoetse (agteruitloop in ’n selfgekose, gemaklike spoed oor drie balansbalke van ’n breedte van 6 cm, 4,5 cm en 3 cm), staande verspring en naelooptoetse van 20 m gedoen.

“Die uitslae van hierdie toetse toon dat kaalvoetkinders in Suid-Afrika se laerskole beter presteer in balanstoetse as hul Duitse eweknieë wat nooit kaalvoet loop nie. Dit kan verband hou met die feit dat die voete van Suid-Afrika se kinders wyer en meer vervormbaar is.”

“Kaalvoetkinders kon ook verder spring vanuit ’n staande posisie as Duitse kinders. Dit kan moontlik verband hou met die feit dat die voetbrûe van Suid-Afrikaanse kinders goed ontwikkel is.

“Kinders wat gereeld kaalvoet loop, se voetbrûe is hoër as dié wat nooit kaalvoet loop nie. Hul voete is ook meer buigsaam en nie so plat nie.”

Venter sê wat die uitslae van die springtoetse betref, is beduidende effekte vir die ouderdomsgroepe ses tot tien jaar en 15-18 jaar gevind.

Sy wys ook daarop dat min­der verskille by adolessensie waargeneem word, hoewel individue wat gereeld kaalvoet loop se springafstand verder en naellooptye stadiger was.

“Ons uitslae toon dat motoriese vaardighede van kinders wat skoene dra en dié wat kaalvoet loop anders kan ontwikkel gedurende die kinderjare en adolessensie. Waar kaalvoetkinders tussen die ouderdomme ses en tien jaar beter gevaar het in die agteruitloop-balanstoets as kinders met skoene, is daar geen verskille in adolessente gevind nie. Die vroeë kinderjare is kernbelangrik vir die ontwikkeling van balans en vinnige verbeterings kan waargeneem word tot en met die ouderdom nege tot tien jaar.”

“ ’n Waarskynlike verklaring is dat skoeiselgewoontes die voet se spierskeletstruktuur beïnvloed wat op sy beurt met motoriese prestasie verbind kan word.”

Venter sê die uitslae van hul studie beklemtoon die invloed en belangrikheid van skoeisel­gewoontes vir die ontwikkeling van voete en motoriese vaardighede gedurende die kinderjare en adolessensie.

In ’n vroeëre studie het Venter bevind dat Suid-Afrikaanse kinders wat kaalvoet loop se voete in baie opsigte anders is as Europese skoendraers.

“Die probleem is dat die groeiende voete van ons kaalvoetkinders in Europese groottes ingedwing word – die skoene is veral te smal. Dit help ook nie ouers besluit om net groter skoene te koop nie – dit verander die natuurlike werking van die voet en die skoen se ontwerpte “knakplek” stem dan nie ooreen met die voet se natuurlik buigplek nie.”

Venter sê dat sy deur haar navorsing die feit wil uitlig dat die skoene wat ons kinders tans kan dra, veral skoolskoene, nie geskik en gepas vir die meeste Suid-Afrikaanse kinders se voete nie en om ’n bewustheid te skep vir die waarde van kaalvoet-wees by kinders.

“Die samelewing koester die persepsie dat kaalvoet-wees noodwendig gelyk moet wees aan armoede of aan laer status in die samelewing.

“Ons behoort eerder ons kaalvoetkultuur te omarm en te koester. Die uitslae van ons navorsing móét plaaslike en Suid-Afrikaanse skoen­verskaffers motiveer om betrokke te raak en werklik om te gee vir die gesondheid en goeie ontwikkeling van kinders se voete.”

Venter voeg by dat sy haar navorsing wil uitbrei na ’n opname oor die voorkoms van voetprobleme by kinders en volwassenes; asook ’n kaalvoet-intervensie met ouer mense en te bepaal of dit onder meer ’n invloed op balans kan hê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.