Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Karel vier 50 jaar by US-proefplaas

Karel Williams se voetspore is al 50 jaar lank op die landerye en in die kweekhuise van die Welgevallen-proefplaas in Stellenbosch te vind.

Karel was net vyftien jaar oud toe hy op 22 Julie 1969 daar ingeval het. Aan die einde van Desember 2019 tree dié 65-jarige amptelik af in diens van die Universiteit Stellenbosch se departement agronomie.

Die proefplaas is destyds nog deur die staat bestuur. Dit is in 1974 deur die US se fakulteit agriwetenskappe oorgeneem.

Karel onthou dat hy sy loopbaan in die melkery op die proefplaas begin het. Een van sy eerste verantwoordelikhede was om die roomskeier, waarmee die room van melk afgeskep word, te hanteer. ’n Paar jaar later het hy na die koring-proefafdeling geskuif, onder leiding van prof. Eddie Laubscher. Daar het hy op die landerye en in die glashuise gehelp, en enigiets gedoen – van plantjies plant tot oeste insamel en saad weeg.

Die laaste dekade of wat het hy in die groentekweekhuise op Welgevallen gewerk. Hier was hy die regterhand van menige navorser of student wat die kweek van groente soos tamaties en komkommers in die beheerde toestande van ’n tonnel bestudeer het. Oor die jare moes hy ook menige jonger werknemer op die proefplaas touwys maak in wat alles gedoen moet word.

Hy’t self groen vingers, en het al jare gelede sy eie groentetuin op Welgevallen aangelê. “Daar is groenboontjies, aartappels, uie – alles wat ’n mens nie in tonnels kan groei nie,” sê hy.

Die plaaslewe is so te sê in Karel se bloed, want hy is op die wynplaas Muratie buite Stellenbosch gebore. Hy het die grootste deel van sy werklewe aan die US op Welgevallen self gewoon. ’n Paar jaar gelede het hy na Happy Valley by Blackheath verhuis. Karel vertel dat sy jonger broer, James, ook by Welgevallen werk.

Karel tree amptelik aan die einde van Desember af. “Ek hoop om nog so twee of drie keer per week te kom uithelp vir eers,” vertel hy.

’n Erkenningsgeselligheid is verlede week vir Karel deur die departement agronomie en die fakulteit agriwetenskappe gehou.

Daar het prof. Danie Brink, dekaan van die fakulteit agriwetenskappe, Karel vir sy lojaliteit teenoor die US en sy 50 goue jare diens bedank.

’n Sertifikaat om sy vyf dekades van diens te erken is ook aan hom oorhandig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.