Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kenner werp lig op grondkwessie

’n Groot groep belangstellendes, onder andere Stellenbosch se burgemeester, adv. Gesie van Deventer, stadsraadslede en leiers in die landbou- en burgerlike gemeenskap, het verlede week Eikestadnuus se jongste sakeont­byt by Neethlingshof bygewoon.

Die gasspreker was prof. Elmien du Plessis, een van die land se voorste kenners in grondreg en vergoeding waar onteiening ter sprake is.

Du Plessis, wat sakereg aan die Noordwes-Universiteit (NWU) doseer, het ’n volledige uitleg gegee en verduidelik hoe grondhervorming die laaste 25 jaar in die modder vasgeval het en hoekom maklike een-sin-antwoorde vir die vraagstuk nie bestaan nie. Volgens haar is daar nie ’n enkele grondvraag nie, maar is die huidige grondgesprek eintlik die sameflansing van vyf afsonderlike vrae wat gesamentlik en individueel beantwoord moet word.

Wat is die huidige grond-regime, wat moet gebeur vir grondher­vorming om suksesvol te wees, wie moet betaal, aan wie behoort die grond en wat is die regs­tegniese aspekte van onteiening met of sonder vergoeding, was die vrae in die kollig.

Du Plessis voorsien geen verandering aan die huidige kapitalistiese model van grondbesit in die toekoms nie. Nasionalisasie van grond is ’n politieke besluit en op die oomblik is dit slegs die EFF wat ten gunste daarvan is. Die wysiging van artikel 25, soos aangevra deur die EFF, maak ook net magte wat reeds in die staat se hande is, duidelik.

Onteiening is ook nie ’n kitsantwoord op die kwelvraag oor hoekom grondhervorming tot dusver net plek-plek suksesvol was nie. Onteiening, met of sonder vergoeding, is slegs ’n meganisme wat die staat bemagtig om die eienaarskap van grond oor te dra, maar bied geen antwoord op wat met die grond moet gebeur nie. Aan wie spesifiek die grond oorgedra moet word en hoe dit tot voordeel van die gemeenskap benut moet word, is vrae wat onbeantwoord bly wanneer die wysiging van artikel 25 van die grondwet bespreek word.

Sy voer aan hoewel die vrae oor wie moet betaal en aan wie die grond behoort, nie regsvrae is nie, beklemtoon dit tog die emosie van die saak en kan dit dus nie geïgnoreer word nie. Volgens Du Plessis het die WVK destyds ’n tydelike belasting op dié wat deur apartheid bevoordeel was voorgestel en dit moes aangewend word om gelykheidsvraagstukke die hoof te bied, maar dat die voorstelle nooit geïmplementeer is nie. Sy meen ook dat dit nie nou prakties of wenslik is om só ’n belasting in te stel nie.

In vraetyd het ’n verteen­woordiger van Graan SA die mening uitgespreek dat boere op die oomblik onregverdig alleen met die moeilike taak oor grondhervorming belas word. Hy was van mening dat die oordrewe fokus op landbougrond nieboere in die huidige gespreksmileu skotvry laat.

Du Plessis het voorts gepleit dat Suid-Afrikaners moet wegbeweeg van dualistiese gesprekke soos dat Suid-Afrika “ ’n tweede Zimbabwe gaan word” en “wit mense het die grond gesteel” na ’n meer besadigde aanslag wat erkenning gee aan mense se gevoelens en ervarings van die saak.

Oor die regstegniese aspekte het Du Plessis gesê die huidige proses is ontsaglik lomp en is oor verskeie regerings­departemente versprei, wat implementasie moeilik maak.

’n Wysiging aan die Grondwet gaan ook minstens ’n jaar neem en dan moet wetgewing wat al langer as ’n dekade in die parlement sloer, in terme daarvan aanvaar word voordat grond sonder vergoeding onteien kan word.

Selfs dan sal die meer as 30 stappe om grond te onteien, uitdagings bied aangesien elkeen van die stappe, indien dit nie korrek uitgevoer kan word nie, in hofsake kan ontaard.

Dit was duidelik uit die gehoor dat groot ongelukkigheid uit alle kante bestaan oor die provinsiale regering se ingryping om besette grond van die plaas Watergang, wat teen R5 020 000 gewaardeer is, teen meer as R45 000 000 te koop.

Uiteindelik is die gehoor nie maklike antwoorde gegee nie, maar eerder gehelp om die kompleksiteit van die vraagstuk te verstaan.

V ’n Meer volledige samevatting van die gesprek en insette uit die gehoor sal binne die volgende week op Eikestadnuus se FB-blad gepubliseer word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.