Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kinders by LAP ‘soos vlieë ingeryg’
Die balkon waar een van Amelia Beneke se kinders slaap. Foto’s: Elmarine Anthony

Tydens die winter staan Amelia Beneke soms in die middel van die nag op om te kyk of haar seun nog leef.

Beneke, ’n 64-jarige pensioentrekker, deel ’n munisipale eenslaapkamer-huurwoonstel met agt ander mense, onder wie drie van haar suster se kinders wat sy ná haar afsterwe ingeneem het. Haar volwasse seun slaap op die balkon wat sy met swartsakke afsper om hom teen die winter se koue te probeer beskerm.

In die sitkamer is twee beddens en nóg ’n matras op die vloer. Wanneer haar ander kinders, wat nie meer in die woonstel woon nie, kom kuier, slaap sy op die kombuisvloer in plaas van op die vloer van die enkele slaapkamer waar sy gewoonlik snags by een van haar kleinkinders slaap.

Beneke woon in Phyllaria-woonstelblok wat saam met Lavanda en Aurora as die LAP-woonstelle en ook onder inwoners as Lapland bekend staan.

Eikestadnuus het met verskeie inwoners gepraat wat sê hulle is “diep ongelukkig” oor die munisipaliteit se beleid oor hoe woonstelle toegeken word, omdat dit glo nie voorsiening maak vir groeiende gesinne nie, die toestande van die woonstelle sowel as kwessies rakende veiligheid.

Volgens Beneke probeer sy al jare lank om ’n groter woonstel te kry. Die drie woonstelblokke bestaan uit een-, twee-, en drieslaapkamer-woonstelle. Toe sy ingetrek het, het sy nog nie haar suster se kinders by haar gehad nie. Sy het haar besonderhede met die aantal mense in die woonstel by die munisipaliteit se behuisingskantoor laat bywerk. Sy wys vir Eikestadnuus ’n brief gedateer 28 Augustus 2017 waarin ’n maatskaplike werker munisipale behuisingsbeamptes versoek om so spoedig moontlik na ’n oorplasing na ’n groter woonstel te kyk. Volgens Beneke is dít een van drie briewe wat maatskaplike werkers al gestuur het.

“Hoekom kan ek nie ’n groter plek kry nie? Matrasse moet neergegooi en weer opgetel word. In die winter is die matrasse nat,” sê Beneke.

Sy vertel verder: “Dis ongesond vir so ’n klomp mense in so ’n klein woonstelletjie. In die winter moet ons met oop vensters slaap. Muskiete byt jou in jou hel. Die kinders slaap nie, want daar moet vars lug inkom. Dis nog altyd te min, want ons is te veel mense. Hulle sit op die grond en eet soos hondjies.”

Beneke is nie die enigste inwoner met wie Eikestadnuus gepraat het waar tot 10 mense in eenslaapkamer-LAP-woonstelle woon nie. “My kinders woon elders omdat daar nie plek is nie. As ek siek word, is daar niemand om na my te kyk nie,” vertel Sarah Jacobs, ’n pensioentrekker.

Nog ’n inwoner, Velda Pietersen, sê egter sy was een van die gelukkiges. Sy, haar man en dogter het 26 jaar gelede in ’n eenslaapkamer-woonstel ingetrek. Mettertyd het haar familie egter gegroei. Pietersen het bevriend geraak met ’n bejaarde vrou in ’n groter woonstel wie se kinders almal uitgetrek het. Die vrou het Pietersen genader om te vra om woonstelle te ruil. “Ons moes toe aansoek doen vir ’n ruiling en moes omtrent R2 000 betaal. Sy het betaal om na ’n eenslaapkamerwoonstel te trek.”

Die sitkamer word as ’n slaapkamer gebruik.
Een van verskeie gebreekte vensters in LAP-geboue.
Hysbakke in die woonstelle is buite werking.
Inwoners sê die woonstelblokke is “vuil en morsig”.

Volgens Pietersen werk die beleid om te ruil so dat inwoners in kleiner woonstelle self inwoners in groter woonstelle moet nader om te vra om te ruil. “Dít is moeilikheid soek. Dis gevaarlik dat inwoners self moet vra om te ruil. Wie gaan dan hul groter woonstel wil prysgee? Die mense moet roteer word volgens die aantal gesinslede, en sonder betaling, want nie almal kan dit bekostig om ’n ruiling te kry nie. Dit gaan nie werk om iemand te vra om te ruil nie.”

Pietersen sê dít het tot gevolg dat kleiner gesinne groot woonstelle het. “Party mense is hartseer en in sommige woonstelle slaap kinders soos vlieë terwyl ander hul drie slaapkamers vir gastekamers gebruik of uitverhuur.”

Volgens Pietersen is party inwoners wel al geroteer sonder om daarvoor aansoek te doen. “Hier was ’n vrou met kanker wat van ’n onderste groter woonstel na ’n kleiner woonstel op die sewende vloer geplaas is. Sy is verlede jaar oorlede, want die ambulansmense kon haar nie gou genoeg onder kry nie omdat die hysbakke nie werk nie. Hoekom kan hulle nie ander mense so skuif nie?”

Party inwoners is ook ontsteld dat iemand soos Nyaniso Jindela, ’n voormalige onderburgemeester en nou speaker, in ’n LAP-woonstel woon. “Hoekom woon iemand met sy salaris in ’n munisipale woonstel tussen pensioentrekkers wat afhanklik is van R1 700 per maand?” vra hulle.

Opnames word gereeld deur die munisipaliteit gedoen sodat inwoners se besonderhede bygewerk kan word. “Die opnames word gedoen deur mense wat nie die inwoners ken nie. Net die persoon op die huurkontrak se ID-boekie word gevra en niemand anders s’n nie. Die opnames is dus nie voldoende nie,” beweer Pietersen.

Nog ’n kwelling wat inwoners het, is die toestand van die geboue en wat hulle beskou as ’n gebrek aan instandhouding.

“Die mure, trappe en reëlings is vuil. Die vensters is stukkend,” vertel inwoners.

“Ons hysbakke is langer as ’n jaar buite werking nadat dit slegs drie maande in gebruik was ná ’n tydperk van langer as sewe jaar wat dit buite werking was. Die gevolg is dat almal, oud en jonk, én besoekers, die trappe moet gebruik,” het Hanna du Toit, wat die afgelope 33 jaar ’n inwoner van LAP is, Woensdag 15 Januarie vanjaar in ’n brief aan die burgemeester geskryf. Dit was een van talle briewe wat sy oor die jare aan munisipale beamptes gestuur het. Sy het sowat ’n jaar gelede ’n heupvervanging ondergaan.

Sy skryf verder: “Ons moes Kersfees ingaan met vuil, morsige urine-besmette trappe sowel as vieslike vuil mure. Kindertjies loop kaalvoet op die morsige trappe. Hoe lank voordat ernstige siektes uitbreek? Ons het as gevolg van die vuil toestande ’n kakkerlak-pes en ’n baie ernstige muskietplaag wat baie vererger het.

“Hier is soveel probleme, maar niemand stel belang om enige diens te lewer nie. Wurms krioel in die nuwe vuilgoeddromme nadat ons belowe is dit sal elke keer ontsmet word. Die vuil toestande hou ’n groot gesondheidsgevaar in. Ons begin nou regtig gatvol raak omdat al ons klagtes op dowe ore val. Waar is ons wyksraadslid en haar komitee?”

Wat veiligheid betref, vertel inwoners hulle het ’n versoek gerig dat elektriese heinings opgerig word en veiligheidsbeamptes om die woonstelle patrolleer.

Hulle sê hulle het in Junie verlede jaar ’n dringende vergadering met die uitvoerende burgemeester sowel as beamptes van die behuisingskantoor versoek, maar niks gehoor nie.

Wat sê die munisipaliteit?

Stuart Grobbelaar, Stellenbosch-munisipaliteit se kommunikasiebestuurder, het soos volg op Eikestadnuus se navraag oor inwoners se klagtes en beweringe gereageer:


Oor toekennings van woonstelle: Wanneer ’n huurwoonstel toegeken word, word dit volgens die grootte van die huishouding gedoen. ’n Eenslaapkamer woonstel word aan ’n huishouding van 2-3 mense toegeken. Dit sou beteken dat die res van die inwoners in hierdie spesifieke eenheid onwettig daar woon. Behuisings administrasie het ’n opname teen die einde van 2019 gedoen en finaliseer tans die verslag. Hierdie verslag gaan die proses om die uitdaging van onwettige inwoners, aanspreek. 

Oor instandhouding: Behuisings administrasie finaliseer tans die aanstelling van kontrakteurs wat alleenlik verantwoordelik gaan wees vir herstelwerk en instandhouding in die woonstelle. Ons is bewus dat hysbakke vir ’n geruime tyd foutief is. Dít was as gevolg van operasionele uitdagings wat die maatskappy wat aangestel is om die hysbakke te onderhou, ervaar het en hierdie kwessie behoort binnekort opgelos te word.

Oor veiligheid: Wetstoepassingsbeamptes patrolleer die hele munisipale gebied in samewerking met ander sekuriteits-belanghebbendes en dít sluit munisipale woonstelle in. Toegewyde beamptes kan nie op ’n permanente basis by hierdie lokasies gestasioneer wees nie. Vandalisme en onwettige storting by die eiendomme bly ’n groot uitdaging. Dikwels word herstelwerk omgekeer deur hierdie onwettige aksies en ons raai inwoners aan om onmiddellik sulke voorvalle aan ons 24-uur kontrolekamer by 021 808 8890 te rapporteer. 


Vereistes vir ’n munisipale woonstel sluit in:
* Aansoekers moet op die behuisingswaglys wees
* Aansoekers moet in staat wees om huur te betaal
* Aansoekers moet onafhanklikes het
* Woonstelle word toegeken volgens die datum van die aansoek.


Oor Jindela: Speaker Nyaniso Jindela het 25 jaar gelede aansoek gedoen om ’n munisipale woonstel te huur terwyl hy in die SAPD gedien het. Nadat die behoorlike proses gevolg is, is hy in 1998 ’n huurwoonstel toegeken. Daar is ’n geldige kontrak in plek wat die munisipaliteit in staat stel om hom op ’n maandelikse basis ’n faktuur te stuur. 

Oor vergaderings: Die burgemeester ontmoet gereeld met inwoners van alle gemeenskappe en ken ook versoeke vir vergaderings aan burgemeesterskomiteelede of administrasie beamptes toe, volgens die aard van die versoek. Inwoners is vry om versoeke vir vergaderings by mayor@stellenbosch.gov.za in te dien. 



MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.