Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Koebaai aan pragtige dorp wat vir 4 jaar my tuiste was

Ek het onlangs ’n onderhoud met dr. Bennie Aucamp, die geliefde voormalige hoof van Laerskool Eikestad, gedoen oor sy aftrede.

Hy het gesê dat hy nie geloop het omdat hy moes nie, maar omdat hy sy loopbaan op ’n hoogtepunt wou afsluit. “Ek wou die partytjie verlaat terwyl dit nog lekker was,” het hy gesê.

Dit is ook presies hoe ek gehoop het dit sou wees as ek die dag Eikestadnuus moes verlaat en ek kan eerlikwaar sê dat ek môre só sal kan maak wanneer ek my laaste dag by dié publikasie het.

My tyd by die koerant was ’n groot leerskool gewees. Ek bly nie hier nie. Ek moes dus vinnig agterkom wat die sake is wat inwoners na aan die hart lê.

Dit het my terloops groot genot gegee om een van die “inkommers” te wees waaroor die “regte” Stellenbossers so graag gekla het.

Volgens die mense wat my by die kantoor kom besoek het, kon ek aflei dat die behoud van die dorp se historiese nalatenskap, sy historiese bome en historiese geboue vir baie mense in die dorp belangrik is. Die Animal Welfare Society van Stellenbosch se diertjies het ek my persoonlike pet project gemaak.

Dan is daar minder aangename onderwerpe soos die verskriklike ongelykheid en die nood waarin sommige mense lewe wat ek ook oor moes skryf.

Ek hoop dat ek deur my artikels mense ingelig het oor hierdie kwessies en ook sommige mense en instansies tot handeling oorgehaal het. As ’n gemeenskaps­joernalis was ek in die posisie om Eikestadnuus as ’n platform hiervoor te gebruik. Dit is iets wat ek gaan mis.

Die afgelope paar weke probeer ek soos ek Stellenbosch toe ry en deur die dorp beweeg myself soveel as moontlik te verkyk aan die pragtige dorp wat vir vier jaar my tuiste was.

Die wingerde wat bykans oornag van een seisoen na ’n ander oorslaan. Die berge wat so blou op die horison lê. Die eeue oue akkerbome wat ’n skadu oor die strate vol studente en toeriste gooi.

Ek sal seker ook nie binnekort weer so gelukkig wees om vir stories op wynplase onthaal te word nie!

Daar is mense van wie dit maklik gaan wees om afskeid te neem, maar ook mense wat my werk vir my maklik en gereeld ook plesierig gemaak het. Ek hoop ek loop weer sulke mense by my nuwe pos raak. Die mense wat ek egter die meeste gaan mis, is die Eikestadnuus-span wat die afgelope vier jaar veel meer as net kollegas vir my was – hulle was familie.

Koebaai en vaarwel, Stellenbosch!

. Michelle van der Spuy sluit van Desember by Landbouweekblad se digitale redaksiespan aan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.