Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Lynette Barnes: Van brigadier tot byeboer

Die meeste mense droom daarvan om hul stokperdjies in ’n volwaardige loopbaan om te skep, en dit is presies wat ’n plaaslike sakevrou gedoen het.

Lynette Barnes, voorheen ’n brigadier in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, het groot hoogtes in haar loopbaan van 33 jaar in die polisie bereik. Met haar uittrede was sy die stasiebevelvoerder van die Kaapstad Sentraal-polisiekantoor, en voor dit ook stasiebevelvoerder van verskeie ander polisiekantore, waaronder Bellville, Kuilsrivier, Maitland en Woodstock.

’n Stokperdjie wat sy destyds begin het, gee haar egter nou die kans om in die buitelug te lewe en waar sy voorheen gewerk het om die mense van Suid-Afrika te help beveilig, is haar stryd nou vir die natuur.

Lynette is ’n byeboer en eienaar van die Cape Honey Factory net buite Stellenbosch. Sy en haar man het sowat 18 jaar gelede begin met net ongeveer 50 byekorwe as ’n stokperdjie. Vandag het sy sowat 1 200 korwe, haar eie stukkie grond, ’n winkel en ’n restaurant waar mense aan hul heerlike heuningprodukte kan kom smul.

“Aan die begin het ons nie grond besit nie. Dit was net ’n stokperdjie. Maar ek het besef dat ek nie vir ewig in die polisie kan bly nie. Ek het ná 33 jaar diens aansoek gedoen om vervroegde pensioen en begin om die boerdery uit te brei. Aanvanklik het ons ’n perseel net langs die N1 se afdraai gehuur.”

Van hier af het hulle die boerdery laat groei. Hulle het die onderneming Klapmutskop Byeboerdery met 800 korwe, by ’n gevestigde byeboer, Nico Langenhoven, wat ook ’n goeie mentor vir hulle was, gekoop.

Van daar het Lynette haar onderneming, The Cape Honey Factory, begin, waaronder ’n winkel wat verskeie soorte heuning- en heuningprodukte, velprodukte sowel as toebehore vir byeboere, korwe, byewas, bye-pakke en ander produkte verskaf.

Haar droom was egter steeds om haar eie grond te besit en het nege jaar gelede die geleentheid gekry.

“Ons het verby ’n pruim-plaas buite Stellenbosch gery en gesien dit is op ’n veiling te koop. Ons het die veiling bygewoon en sonder om te weet of ons dit regtig sal kan bekostig, ’n kans gewaag en gebie! En dis hoe ons Klein Nooitgedacht bekom het.”

Die plaas is slegs 5,1 hektaar groot, maar bied ’n sentrale afsetpunt vir die boerdery. Korwe word gemaak, heuning uitgeswaai, byewas uitgerol en opvoedkundige klasse aangebied. Die byekorwe word van hier af bestuur en oral in die Boland waar daar genoeg voeding vir die bye is en waar hulle genoeg stuifmeel en nektar kan kry, geplaas.

“Ons is afhanklik van die boere (produsente) om staanplekke op hul plase vir ons beskikbaar te stel.

“Die belangrikste doel van ’n by is egter nie net om heuning te produseer nie, maar wel om vrugte, groente en sade te bestuif.

“Byekorwe word aan verskeie vrugte-, saad- en neutprodusente in die Wes-Kaap vir die bestuiwingstydperk verhuur.”

Met tye sal hulle selfs na Ceres of Grabouw ry met bakkievragte vol byekorwe.

“Die bye sal dan sowat twee of drie weke daar bly om te help met die bestuiwing van die vrugtebloeisels.”

Volgens Lynette het die verandering in spesifieke bessie-produksie hulle ook begin raak – veral die gebruik van tonnels in die wintermaande waarvoor bye benodig word vir bestuiwing terwyl hulle in die algemeen meer onaktief in die winter is, het veroorsaak dat die bye-metodes aangepas moes word.

Die boerdery is ook nie sonder sy probleme nie. Veral die Amerikaanse Vuilbroed-epidemie (American Foulbrood, of AFB) wat in 2013 uitgebreek het, het byeboere in Suid-Afrika ernstig geraak.

“Dit was ‘n groot slag vir elkeen in die bedryf. Die korwe wat aangetas is, moes verbrand word om die verspreiding te voorkom. Die siekte het veroorsaak dat bye nie tot volwassenheid ontwikkel nie en hulle kon dus nie heuning maak of bestuiwing doen nie.

“Die ernstige droogte kort op die hakke van die epidemie het dinge verder bemoeilik.”

Nog ’n groot probleem vir byeboere is die gebruik van insekdoders in boerdery.

“Dit het werklik ’n groot negatiewe uitwerking op die bye en veroorsaak jaarliks geweldige verliese, veral in die bestuiwingstydperk. Niks is vir ’n byeboer so erg as om by ’n kis te kom en ’n swerm dooie bye aan te tref nie.

“Soms affekteer die gif die bye eers ’n paar weke later – hulle word swakker en vrek dan.”

Volgens Lynette het dié saak egter ook ’n positiewe kant. “Heelwat samesprekings tussen produsente en byeboere is die afgelope paar jaar gevoer en ek glo dat almal meer ingelig is oor die uitwerking wat sekere gifstowwe op die bye-bevolking het en die verantwoordelike gebruik daarvan word hopelik vooropgestel.”

Sy is ook positief oor die samewerking tussen die Wes-Kaapse byebedryfsvereniging (WKBV) en die departement van landbou wat hom veral toespits op die gereelde kommunikasie met produsente, gifstof-verskaffers en byeboere om die gevaar van die ondeurdagte gebruik van gifstowwe te kommunikeer.

Lynette was ook voorsitter van die Wes-Kaapse Byevereniging, die eerste vrou in dié posisie in meer as 100 jaar.

“Byeboerdery is baie arbeidsintensief en dis ’n taamlike proses.” Sy het tans elf voltydse werknemers op die plaas, maar in die lente stel sy heelwat tydelike werkers aan.

Buiten haar eie werk mentor sy ook heelwat mense. Twee van haar voormalige werknemers is nou volwaardige byeboere en sy werk nou saam met hulle om te help waar sy kan en koop selfs hul heuning vir haar winkel en huur ook hul korwe in die bestuiwingstydperk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.