Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Mans gered ná treinaanval
So het die toneel by die Zetler-padstal gelyk.

Hulle was nog besig om ’n beseerde te stabiliseer toe kom die volgende een uit die donker te voorskyn.

Só vertel Renier van der Westhuizen, ’n boer van Middelvlei-landgoed en die enigste gesertifiseerde kalfsvleisboer in Suid-Afrika, wat Vrydag 7 September beseerdes gehelp het nadat hulle in Stellenbosch op ’n trein aangeval is.

Hy het dié dag reeds ’n traumatiese ervaring gehad nadat sy hond ses uur lank spoorloos verdwyn het.

Op pad huis toe die aand het hy en sy meisie, Izette van der Merwe, by die vulstasie naby die Lynedoch-treinstasie gestop om ’n paar goed te koop. Dit is toe dat Van der Westhuizen die beseerde man (hy skat hom omtrent 24 jaar oud), vermoedelik ’n buitelander, langs die treinspoor gewaar het.

Hulle was nog besig om die man te behandel toe die volgende beseerde uit die donker verskyn.

Hulle het die man met die hulp van Quintus van Wyk, ’n voormalige paramedikus in die grensoorlog, probeer stabiliseer. ’n Stuk van die mes waarmee hy aangeval is, het in sy skedel afgebreek.

Op daardie tydstip was dit 10 ºC buite en die man se liggaam het in skok verval.

Hulle was nog besig om die man te behandel toe die volgende beseerde uit die donker verskyn. Soos hulle met die treinspoor afbeweeg het, het hulle nog sewe beseerde mans aangetref.

Die beseerdes is vermoedelik van die bewegende trein af gegooi.

Een van hulle, wat vermoedelik uit die bewegende trein gegooi is en ’n paal getref het, het aan sy beserings beswyk.

Die res van die mans, wat almal beroof, aangerand en uit die bewegende trein gegooi is, is na hospitale geneem.

Van der Westhuizen sê verskeie aspekte van dié voorval het hom erg ontstel. Die eerste is dat hulle ’n uur en ’n half moes wag voordat ’n ambulans opgedaag het en ’n uur vir die polisie moes wag, van wie nie een opgelei was om noodhulp toe te pas nie.

“Ek het hulle gevra hoe dit moontlik is dat hulle opgelei word om mense se lewe te neem, maar nie om hulle te red nie?” vertel hy.

“As dit nie vir ons drie was nie, sou al die mans dood gewees het.”

Dit gaan egter nie vir hom daaroor dat hy ’n heldedaad verrig het nie. Hy beskou die hulp wat hulle aan die beseerdes gegee het as almal se burgerlike plig.

Wat hom egter die meeste ontstel, is dat dié mans, wat vermoedelik plaaswerkers in die omgewing is, deur ’n klein groepie mans, vermoedelik bendelede wat niks vir hul medemens voel nie, van hul dag se loon ontneem is.

“Dit is arm mense wat niks het nie, hard gewerk het vir hul geld en nou word dit by hulle afgevat. Dit is wat my hart breek – dat hierdie mense geteiken word.”

Dit is wat my hart breek – dat hierdie mense geteiken word.

Hy sê as die polisie mense regtig wil help, moet hulle saam met die pendelaars in die kajuite wees in plaas van by die onderskeie stasies wag te hou.

Kapt. Natalie Martin, woordvoerder van Stellenbosch-polisie, sê ’n saak van moord en poging tot moord is ná die voorval geopen.

Enige lede van die publiek wat nuttige inligting oor die voorval het, word aangemoedig om konstabel Bulelani Siko van die Stellenbosch-speurtak by 021 809 9142/5 te bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.