Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Moenie jou winterklere te vinnig wil wegpak nie

“Dit wil maar nie vanjaar somer word nie.”

In die jare sewentig van die vorige eeu was dit telkens die versugting van my ma. Sy het ná 65 jaar in die Vrystaat in Stellen­bosch kom aftree. “Jy skryf nie die Boland se winter af nie,” die woorde van ’n deurwinterde en wyse man wat onder die druiwestok in die Hexvallei grootgeword het. “Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand: So blou en sonder wolke die hemel heerlik bo . . .” Leipoldt het waarskynlik die lente in sy kleinvaderland, Clanwilliam, hier beskryf. Beslis nie ’n Bolandse Oktober nie. “Kapenaars wat steeds die winterkoue voel byt, misgis hulle nie dat hulle dié lente ietwat kouer kry nie.”(Die Burger 20/11/2019)

Die temperatuur hierdie Oktober was glo kouer as die gemiddelde vir vorige jare. Toe ek so ’n halwe eeu gelede ’n eerstejaarstudent was, het die seniors my vroeg in September gewaarsku dat ek maar my somersklere liewer moes bêre, want ek sou net koue vat. Ja, dis waar, “hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde”. Die oomblik wanneer die bome bot, verskyn die oningeligte jong vroue steeds in hul einakleertjies. In die noordelike gedeeltes van die land is daar geen lente nie. Daar is eenvoudig net ’n oorgang van koue Augustuswinde na snikhete somersdae. Ek moes aan die voet van Stellenbosch se berge kom woon om te besef wat die woord “lente” werklik beteken. Die Bolandse lenteweer is ongestadig – onbestendig, wispelturig. Die een week pak jy truie en jasse weg om dit die volgende week weer uit te grawe. Op ’n dag in Oktober styg die kwik tot by 30 °C. Die Eersterivier is droog. Drie dae later bibber ons by ongeveer 13 °C en die rivier oorstroom byna sy wal. Maar en nog ’n keer “maar”: ons wêreld is mooi, ongelooflik mooi. Kappertjies vorm ’n oranje tapyt op die wal van die Eersterivier. Die geur van jasmyn en katjiepiering is oral om ons heen. Krismisrose begin uit hul dop kruip. Die digter D.J. Opperman beskryf lente in Stellenbosch met ’n verwysing na die berge en die aarbei-oes: “Die Pieke blaai na ander buie, blou of groen, maar jy is met alles om jou heen versoen . . . Jy sing saam aan ou refreine [en] proe beskeie aan rooi punte van aarbeie.”

Ou doktor Con Viljee het altesaam 60 jaar in Stellenbosch gewoon. Sy vertaling van Robert Stolz se “Im Prater blüh’n wieder die Bäume” som die lentegees en romantiek van die studentedorp die beste op : “Vriende, kyk die lug word blou, groen is boom en blaar, sonskyn bring weer nuwe moed – Lentetyd is daar! Wie nog jonk is, kom met my na die groene land. In Stellenbosch bloei weer die bome, die wintertyd is nou verby; dan droom ons die saligste drome, want lente is weer in ons land.” Dit is amper die einde van die jaar. Dis nog glad nie warm nie. Ek staan op die wal van die swembad by Coetzenburg. Twee rooibekswaeltjies vlieg bo my kop verby. Versigtig messel die een modderklontjies onder ’n dakoorhang vas. Ek hoop hulle het nog winterveertjies, want in Stellenbosch pak jy jou winterklere nie voor 10 Desember weg nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.