Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Musiek-navorsing bring hoop vir seuns

“Ons het almal ’n verantwoordelikheid. Ek kan dalk nie die hele wêreld verander nie, maar as ek een mens se lewe deur musiek kan aanraak en verander, het ek my werk gedoen en kan ek maar hemel toe gaan.”

Dít is die vurige hoop van Xander Kritzinger, wat verlede week sy MMus-graad by die gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch se fakulteit lettere en sosiale wetenskappe ontvang het.

Kritzinger het aan die musiekdepartement by die US gestudeer en sy navorsing het gehandel oor stemopleiding tydens manlike puberteit, ’n onderwerp wat hom na aan die hart lê.

“Ek het in kore grootgeword en was ook ’n leerder by die Drakensberg Seunskool. In daardie tyd het my stem verander en het ek met die tegniese sy van sing gesukkel. Ek wou al lankal ’n meestersgraad oor die verandering in seunstemme doen. Ek het ’n begeerte gehad om meer te leer oor hoe om met hierdie jongelinge te werk, want die mense wat met my gewerk het, het nie baie van die onderwerp af geweet nie.”

Kritzinger meen dat indien meer navorsing oor die verandering in seunstemme gedoen is gedurende die tyd wat hy as ’n jong seun in kore gesing het, sy stemopleiding en vordering baie daarby sou kon gebaat het. “Die hoofrede waarom ek met hierdie navorsing begin het, is omdat ek nie genoeg geweet het nie. Dit is vir my belangrik om met jong sangers, veral seuns wie se stemme besig is om te breek, te werk. Net soveel as wat ek my hart op die navorsingsproses verloor het, sal die kinders met wie ek werk, baat vind by my navorsing.”

Kritzinger is al sedert 2004 by koormusiek betrokke. Hy was gedurende sy grootwordjare in KwaZulu-Natal by verskeie kore betrokke en het begin dirigeer terwyl hy nog op hoërskool was. As die vierde geslag koordirigent in sy familie en met ouers wat musiekinstrumente bespeel en hul liefde vir musiek met hom gedeel het, was dit ’n natuurlike uitvloeisel vir Kritzinger om ’n beroep in musiek te volg.

“My gekose medium is koormusiek. As ek ’n verhouding as mentor en onderwyser met ’n kind kan bou – ’n gesonde verhouding met grense – kan ek ’n groter invloed hê. Om ’n ruimte te skep waar ’n kind of ’n jongmens deur musiek kan ontwikkel en met ’n glimlag kan wegstap – dit is hoekom ek dit doen.”

Kritzinger werk tans as koordirigent en stemafrigter by Hoërskool Stellenbosch en dit gee vir hom oneindige vreugde.

“Dit is ’n lang proses en wanneer jy begin om ’n verhouding met kinders te bou, gaan dit nie noodwendig daaroor om die beste musikant of wat ook al te wees nie.

“Jy wil ook hê hulle moet gesonde, sielkundig-stabiele individue wees. Ek wil toesien dat kinders gesonde volwassenes word.”

Kritzinger beplan om sy navorsing oor stemopleiding vir seuns gedurende puberteit voort te sit wanneer hy aanstaande jaar met sy doktorale studies in musiek aan die US begin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.