Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Niks kom van beloftes’

Die inwoners van die plakkerskamp by Vlottenburg, waar gewelddadige betogings dié naweek uitgebreek het, is moeg vir leë beloftes.

Tientalle inwoners is die naweek dakloos gelaat nadat ’n brand 24 houthuise verswelg het. Meer as 100 mense moet nou elders gehuisves word.

Die inwoners woon al sedert 2015 langs die M12 (Polkadraaipad) nadat hulle van die munisipale stortingsterrein verskuif is. Die rede was blykbaar dat gasse wat in die stortingsterrein opbou, lewens­gevaarlik vir die inwoners sou wees. Die onderneming is gegee dat alternatiewe behuising binne twee jaar verskaf sou word.

Die Stellenbosch-munisipaliteit het van hierdie tente vir die Vlottenburgse plakkers gegee om in te bly tot tyd en wyl nuwe houthuise opgerig kan word. Foto: Danie Keet

Abraham Matthyse, een van die inwoners wat alles in die naweek se brand verloor het, is moedeloos van die gewag.

“Belofte op belofte word gemaak en niks gebeur nie. Nou is dit al weer winter en ons en ons kinders moet in hierdie omstandighede leef.

“Die munisipaliteit het Saterdag gesê hy gaan binne twee dae nuwe wendyhuise kom bou, maar die gebrande oorblyfsels van ons huise is nou nog nie eens verwyder nie,” het hy Dinsdag gesê.

“Ons wag al vyf jaar vir huise – hoe lank gaan dit nog duur voordat ons gehelp kan word? Baie van ons skarrel elke dag by die dump om ’n inkomste te verdien.

“Nou moet ons oor hierdie gevaarlike pad gaan en soggens vieruur al voor die toe hek sit en wag dat ons kan begin om ’n geldjie te verdien sodat ons en ons familie iets te ete kan kry,” het hy vertel.

Hy het ook na die tente gewys wat die munisipaliteit vir hulle as tydelike skuilplek gegee het.

Abraham Matthyse (voor) blaai deur ’n verbrande gesangeboek terwyl Franklin Julies kyk wat van sy besittings oorgebly het nadat ’n brand Saterdag 24 plakkershutte in die Vlottenburg-nedersetting verwoes het. Foto: Danie Keet

“Die tentjies kan skaars ’n kind huisves, wat nog van gesinne – dis belaglik om te dink dat ons daarin moet bly,” was sy verontwaardigde opmerking oor die hulp wat die munisipaliteit aangebied het. Hy het gesê hulle wou in ’n gemeenskapsaal aan die oorkant van die pad gaan bly, maar die inwoners daar wou dit nie toelaat nie.

Volgens Stuart Grobbelaar, kommunikasiebestuurder by die Stellenbosch-munisipaliteit, is gesinne wat deur die brand geraak is aanvanklik tweemantente as skuiling aangebied totdat die munisipaliteit ’n diens­verskaffer kan aanstel om nuwe strukture op te rig.

Die plan is dat dit teen Vrydag sal gebeur.

In die aanloop tot die wydverspreide reënbuie wat sedertdien oor Stellenbosch uitgesak het, is ’n verdere aanbod om die gemeenskap tydelik in ’n gemeenskapsaal te huisves, wat volgens Grobbelaar deur die Longlands TRA-gemeenskap van die hand gewys is.

’n Ander groter tent sal nou in samewerking met die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit opgerig word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.