Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nuwe paaie moet sinvol wees

In Eikestadnuusvan 20 Junie het u die mening van Gustav Bester gegee oor paaie en verkeer in Stellenbosch (“Stellenbosch kort gou nuwe paaie”).

Hy het oor verskeie aspekte kommentaar gelewer en hy is reg dat Stellenbosch inderdaad baie probleme het, onder meer met verkeer. Ek reageer egter net op sy mening van die oostelike verbypad, want nie alles wat hy daaroor sê, is feitelik korrek nie.

Hy meld dat die oostelike verbypad in 1968 as provinsiale hoofpad geproklameer is. Dit is korrek, maar dit is nie die oostelike verbypad wat voorgestel is deur die Stellenbosch Municipality Mobility Forum en op 13 September 2018 gepubliseer is nie. In 1968 het die woon­buurte Paradyskloof en Brandwacht, waarna Bester verwys, nog nie bestaan nie en Tegnopark het nog later gekom.

Die doel van die 1968- oostelike verbypad was om die amfiteater wat die universiteit beoog het, te bedien. Die amfiteater sou teen die hange van Stellenboschberg by Coetzenburg uitgegrawe word met 50 000 sitplekke (sommige bronne sê 100 000). Daarvoor was beter toegang na Coetzenburg nodig. As ek reg onthou sou die geproklameerde hoofpad van die R44 oor Van Rheede- en Parkstraat loop, net suid van die proefplaas verby tot by die amfiteater, en dan oor die Eersterivier om by Jannaschstraat aan te sluit.

Die universiteit het afgesien van die bou van die amfiteater en die doel van die pad het dus verval. Die pad is egter nog elke dekade of so op die struktuurplan (nou Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk) aangedui.

Ek het elke keer, langs amptelike weë, beswaar gemaak. Ek het daarop gewys dat die verbypad gegrond is op die Houston, Texas-model. Houston is ’n groot stad geleë op ’n plat karakterlose vlakte. Dit groei voortdurend en die verkeersprobleme word met ringpaaie opgelos.

Stellenbosch is egter nie op ’n vlakte geleë nie, het ek uitgewys. Dit is gedeeltelik omring deur berge. Die Houston-model van ringpaaie sal nie hier werk nie. Ná ongeveer 25 jaar het die oostelike verbypad van die struktuurplan verdwyn.

Dit was die hele punt van my onlangse besware.

Die “nuwe” oostelike verbypad soos gepubliseer deur die Stellenbosch Municipality Mobility Forum, wat oor die voet van Stellenboschberg loop, sal baie min verligting bring vir die swaar verkeer deur die dorp of by die skole, terwyl dit groot skade elders gaan aanrig.

Gelukkig is die oostelike verbypad nie op die onlangs gepubliseerde Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk van Stellenbosch nie.

Piet Claassen,
Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.