Ek was geskok om as Stellenbosser deur iemand van Kaapstad ingelig te word dat die Jonkershoek-natuurreservaat van 1 Desember af nie meer voertuie gaan toelaat nie.
Ek sal graag wil weet wie die besluit geneem het en of die publiek geraadpleeg is.
In ’n skrywe deur CapeNature en MTO Trails word dit as ’n voldonge feit aangekondig dat motorvoertuie van 1 Desember in die Jonkershoek-reservaat taboe is. Die redes is veiligheid van besoekers, die moontlikheid van voertuie wat vasval of ongelukke veroorsaak, mense wat onwettig oornag in die reservaat en die moontlikheid dat voertuie brandbestryding kan belemmer.
Al bogenoemde aspekte was altyd potensiële gevare en daarom teken besoekers ’n vrywaring as hulle die natuurgebied betree. As dit in werklikheid gaan oor fietsryers wat sonder inagneming van ander mense op die paaie in die reservaat wil jaag, of die swak instandhouding van die paaie in die reservaat en daarvoor geld benodig word, pak hierdie uitdagings aan deur doeltreffende bestuur. Moenie gebruikers om die bos lei met ongegronde redes nie.
Die reservaat is nou ontoeganklik vir ouer mense en kinders wat nie van die toegangshek tot by die meeste staproetes kan stap nie.
Jonkershoekliefhebber,
Stellenbosch