Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Onder die Eik: Stellenbosch 2020 is anders

“Altyd in my drome sien ek die Eikebome. Stellenbosch die roep my en ek moet gaan. As ek net daaraan dink, dan stort ’n traan. Want daar is ek gebore, want daar is ek gebore . . .” (Skrywer onbekend)

Met hierdie nostalgiese liedjie het ek grootgeword, gesing deur my pa. As 31-jarige getroude man het hy met sy vrou en driejarige dogtertjie in 1941 in Stellenbosch kom studeer. Stellenbosch het sy hartsplek geword en 30 jaar later het hy hiér kom aftree.

Hierdie dorp het maar die manier om in ’n mens se hart te kruip en hom vir altyd daar tuis te maak.

Die afgelope paar weke het die Duitse, Nederlandse en Hongaarse Olimpiese swemspanne by Coetzenburg geoefen. Ek gesels met die afrigter van die Oostenrykse span en sing ’n loflied oor die pragtige musiekstad, Wene. Die man korrigeer my: “Geen plek is mooier as hierdie dorp en omgewing nie.”

Stellenbosch is waarskynlik dié dorp in Suid-Afrika waaroor die meeste gedigte en lirieke geskryf is. ’n Mens kan ’n hele rubriek saamstel, slegs met aanhalings uit die letterkunde en liedjies. Dit is presies wat ek probeer doen.

Winter in Mostertsdrif:

“Die Pieke skuil in mis of wit kapok

Bo lensie-, ertjie-, spek -en boontjiesop

wat damp teen vensters van wit gewelmure,

Bottels rooiwyn warm aan voor kaggelvure” (DJ Opperman)

Lente en die studente se koppe is vol muisneste:

“Al langs die waterstrome onder die Eikebome loop ons tesame in die ou Eikestad. Nooientjies se goue laggies, fluister hul ore saggies hier in die lente in die ou Eikestad. Dit is die lente en ons is saam studente hier in die ou Eikestad.” (Kenneth Mckellar).

“Vol geesdrif is Sampie van Storms­vlei Matieland toe om ’n graad te kry

Maar met mooi meisies volop

En party boonop loskop

Het hy hom skoon uit sy graad uit gevry” (Johan de Kock)

Langs Coetzenburg vloei ’n waterstroom . . .

“Daar het reeds menig vroom student,

Sy liefde beloof die onnosele vent,

of afjak gekry en sy bakkies geskend,

en skielik ontwaak uit sy lentedroom,

Pasop vir die ou Eikeboom!” (verw. Dirkie de Villiers)

Klein Saterdag of karnaval in die middedorp:

“In Stellenbosch histories van faam

Is ’n plein dubbelsinnig van naam

Baie Maties het al

By die kroeg uitgeval

En die plein se naam prakties beaam”

(Johan de Kock)

Die akademiese jaar is verby:

“Nog ’n jaar is verstreke in ou Matieland

Ja, die jare gaan so snel verby.

Eersdaags reik ons in afskeid mekaar weer die hand.

Soet herinneringe sal steeds by ons bly.

Van die ou Eikelaan en ’n duisend ervarings daarby.”( Skrywer onbekend)

“ ’n Jongman met hoë ambisie

is Matieland toe vir admissie

maar met al sy gevry

is die kursus verby

en aanvaar hy toe maar demissie” (Johan de Kock)

Stellenbosch herbesoek:

“Stellenbosch is kastig ’n classic,

Maar ek het haar 20 jaar gelede

By die venster uitgesmyt –

‘hopeloos oorskat’ het ek gesê

Maar o, Stellenbosch, dis twintig jaar later en ek is besig

Om weer ’n swak te ontwikkel vir jou

Bleddie beautiful Bolandse lente jou teatrale

Sonsondergange, jou selfingenome berge

Jy lyk wragtig nie ‘n dag ouer nie, inteendeel . . .” (Danie Marais)

Bietjie Stellenbosch-snobisme uit die 20ste eeu:

“Nêrens leef mens so vrolik

As by ons op Matieland

Nooiens/Kêrels is daar by die honderd

Nooiens/Kêrels land en sand

Matielanders kry jy orals

Van die Kaap tot in Transvaal

Gawe nooiens, flinke kêrels

En hul praat ons moedertaal” (Verw. Con de Villiers)

2020:

“Mans/dames by die duisend

Deesdae meestal fuifend

Oud-studente kry jy oral

Van Taiwan tot in Londen

Maar in Engels is hul nou georden” (C. de Kock)

Wees gegroet!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.