Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Ons is gatvol vir leë beloftes’
behuising
Lede van die Cloetesville Backyard Dwellers-forum betoog oor behuising vir agterplaasbewoners. Foto: Francois Lombard

Lede van die Stellenbosch Backyard Dwellers-forum (SBYDF) het verlede Woensdag (7 Oktober) ’n betoging oor ’n gebrek aan behuising vir agterplaasbewoners na die munisipaliteit se kantoor in Pleinstraat gehou.

Lawrence Seals, die voorsitter, het in ’n memorandum wat aan Gesie van Deventer, die uitvoerende burgemeester, gerig is, onder meer die volgende geskryf: “Ons as gemeenskap is nou gatvol om verder na enige leë beloftes te luister en mooi praatjies gaan nie meer werk nie. Gee ons wat ons toekom, want om 10 tot 30 jaar vir huise te wag, skend ons menswaardigheid.”

Die forum het ook kwessies van oorbevolking en uitsettings geopper.

Die forum het sedert dit in April 2019 gestig is al verskeie optogte oor behuising na die munisipale kantoor gehou.

“Ons is teleurgesteld oor die gebrek aan vordering. Hulle bly praat, maar niks word gedoen nie,” sê Seals.

Lede van die SBYDF het verlede jaar met verskeie munisipale beamptes, insluitend Nyaniso Jindela, die voormalige onderburgemeester en nou speaker, agt erwe in Cloetesville vir moontlike behuising vir agterplaasbewoners geïdentifiseer.

Seals sê die forum het voorgestel dat die munisipaliteit korttermynoplossings in die vorm van tydelike behuising op die erwe bou.

Op ’n gemeenskapsvergadering in ’n stampvol Eikestadsaal het Jindela onder meer gesê daar moet korttermynoplossings soos Nutec-huise asook langtermynoplossings wees.

Hieroor sê Seals: “Ons het gevra vir tydelike behuising vir mense in nood, veral bejaardes en mense met gestremdhede. Hulle het nooit hul beloftes nagekom nie. Die feit bly staan – ons mense soek huise en ons mense is in die nood.”

Volgens Stuart Grobbelaar, Stellenbosch se kommunikasiebestuurder, het die munisipale raad op 23 Oktober 2019 ’n item goedgekeur met die doel om die amptenary in staat te stel om haalbaarheidstudies op die individuele erwe te onderneem.

“Die hoofdoel van die haalbaarheidstudie is om die geskiktheid van die onderskeie erwe vir residensiële ontwikkeling ten bate van die breër Cloetesville-gemeenskap te ondersoek. Die raad het ook versoek dat ontwikkelingsvoorstelle vir elke erf ná afloop van die haalbaarheidstudies ter tafel gelê word.”

Grobbelaar sê die raad het terselfdertyd ook ’n parallelle studie op ander spesifieke erwe wat in Cloetesville geïdentifiseer is, gedoen.

“Die doel van hierdie studie was om die geskiktheid van hierdie erwe vir die ontwikkeling van noodbehuising te bepaal.

“Die koste om die dienste/infrastruktuur op hierdie erwe te installeer, is egter veel hoër as die subsidie wat die raad vir laeinkomstebehuising ontvang.

“ ’n Deel van die haalbaarheidstudie is om die beste ontwikkelingsvoorstel moontlik, insluitend die voorsiening van noodbehuising vir die kort termyn, te identifiseer.”

Volgens Grobbelaar was die raad se versoek aan die konsultante dat hulle ook werkbare konsep-onderverdelings-voorstelle moet ontwikkel om die behoefte aan noodbehuising die hoof te bied.

“Die bevindings van die haalbaarheidstudie, ’n beraamde ontwikkelingstydlyn en voorstelle vir kort- en langtermynplanne wat aan die begroting gekoppel is, sal aan die raad voorgelê word.”

Op ’n vraag of ’n peiling gedoen is om vas te stel hoeveel agterplaasbewoners in Cloetesville is, het Grobbelaar gesê die studie het getoon daar is ongeveer 600 bewoonde agterplaasstrukture in Cloetesville.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.