Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ontwikkeling kan woongebied ontsier
Die beplande vooraansig van die ontwikkeling van 42 wooneenhede in Simonswyk.

’n Eiland; ’n stukkie van Amsterdam in die middel van nêrens – niks anders in Simonswyk lyk só nie.

Dit is een van die kommentare van die publiek oor die aansoek van ’n ontwikkelaar om 42 wooneenhede van drie verdiepings elk te bou op drie erwe wat in Schoongezichtstraat 1, 3 en 5 aan die straat grens en op ’n onderverdeling van nommer 5.

Groeiende kommer heers onder die inwoners van Simonswyk en ander lede van die publiek oor die impak wat die ontwikkeling met erg verhoogde verkeer, verlies aan bome en moontlike lawaai op die rustige buurt gaan hê.

’n Kelder word onder al die erwe voorsien waar 86 motors, 20 motorfietse en 25 fietse ondergronds parkeer kan word. Bome sal nie eintlik op die eiendom en in die ondergrondse kelder kan groei nie – moontlik net aan die rante – en ’n hele paar bome op die erwe sal heel moontlik met die groot uitgrawing verwyder moet word.

Die wooneenhede sal vas aan mekaar gebou word – iets wat nie ten noorde van die beoogde ontwikkeling bestaan nie. Die 42 beoogde eenhede verteenwoordig ’n baie hoë digtheid van 103 eenhede per ha. ’n Digtheid van 25 eenhede per ha word as paslik vir ’n enkelbewoningsgebied beskou.

Die aansoek vir die groot getal wooneenhede word beskou as ’n oorplasing van die ontwikkelings in dele van Cluverweg en Die Weides op Simonswyk, wat ’n rustige enkelbewoningskarakter het. Die beoogde ontwikkeling grens aan en kyk uit op Simonswyk, nie op Cluverweg nie. Dele van laasgenoemde het algemene bewoningsregte, wat woonstelle insluit.

Die vooraansig van die beoogde wooneenhede op drie erwe in Schoongezichtstraat vorm een soliede blok van drie verdiepings, effens verhoog weens die groot kelder, sonder enige afwisseling, met ’n groot ingang en sonder bome. Bome is ’n belangrike karaktereienskap van Simonswyk.

Volgens een van die menings wat ontvang is, maak die aansoek ’n grap van die bestaande riglyne en grondgebruikbepalings van die dorp.

Dit gaan minstens 86 meer motors in die buurt en op Stellenbosch se oorvol paaie – dikwels ook Cluverweg – plaas. Volgens een eiendomskenner het Stellenbosch reeds ’n ooraanbod luukse wooneenhede en is die behoefte eerder bekostigbare huisvesting. Die luukse eenhede met drie slaapkamers, elkeen met ’n eie badkamer, gaan eerder studente trek as gesinne, en dit kan die aantal motors verder laat vermeerder.

Schoongezichtstraat soos dit tans lyk en waarvan die voorkoms onherroeplik kan verander.

Om ’n woonstelblok met hoë digtheid in ’n enkelwoningsgebied te bou, is in skreiende kontras met die enkelbewoningserwe in Simonswyk.

Volgens Dawid Botha, ’n raadsheer wat sedert 1980 met Simonswyk verbind is en ’n voormalige wyksraadslid van die gebied is, is gepaste verdigting ’n goeie manier om meer gesinne die geleentheid te gee om naby die middedorp, skole, natuur en universiteit te wees, maar dan [moet dit] verdigting wees wat inpas en nie die buurt se karakter vernietig en met motors verstop nie.

“Die digtheid van 25 eenhede per hektaar is baie meer toepaslik. Jonkerszicht se digtheid is ’n goeie voorbeeld.

“ ’n Nuwe ontwikkeling in Schoongezicht kan verskeie vorms aanneem. Een sou wees om die bestaande enkelbewoninggeboue in die driehoek begrens deur Cluverweg, Merrimanlaan en Schoongezichtstraat te herontwikkel in meer eenhede en ook om invuleenhede te bou; almal in goeie verhouding tot mekaar vir privaatheid en oop ruimtes.

“Die beste manier sou wees om die hele driehoek opnuut te beplan – binne die aard van Simonswyk – deur met vernuwende denke vorendag te kom volgens die beste stedelike ontwerpsbeginsels. In hierdie lig kan ’n nuwe plan vir die hele Simonswyk moontlik oorweeg word, maar met behoud van sy karakter,” meen Botha.

Botha het ’n beroep op Simonswykers gedoen om hierdie huidige ontoepaslike aansoek te verander in ’n kreatiewe en volhoubare oplossing vir die hele Simonswyk waar gesonder verdigting, voorkeur aan fietse en voetgangers en kalmering van motorverkeer voorrang kan geniet.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.