Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oud-Paul Rooser nou groot Kokkedoor-kinkelkok
SJ

’n Oud-Paul Rooser gaan in die nuutste reeks van Kokkedoor te sien wees.

SJ Nel het sy hoërskoolloopbaan by Paul Roos Gimnasium in 1997 as ’n sportiewe Noord-Kaapse mannetjie met baie drome begin. Hy het ná skool ’n pad van kos en reis gekies.

Sy paadjie het hom van Kaapstad na Engeland na Swede en weer terug tot op kykNET se Kokkedoor-kookkompetisie gelei waar hy as een van die kinkelkokke gaan deelneem. Dit sal die derde reeks van Kokkedoor wees waar tien kinkelkokke (mense met sjef-kwalifikasies) saam met 20 onthoukokke (fakkeldraers van tradisionele Suid-Afrikaanse kos) dit uitspook vir die titel van Kokkedoor 2019.

Nel het ’n hotelbestuurkursus van drie jaar by die Internasionale Hotelskool voltooi. Hy het in dié fase van sy lewe ’n baie sterk band met restaurante en alles wat daarmee gepaard gaan, ontwikkel. Vandag is hy al byna 20 jaar in die bedryf en staan steeds elke dag vol motivering op “om ’n beter sjef, restauranteur en leier te wees”.

“Ek het vir Kokkedoor ingeskryf om my platform vir kos, mense en tradisie te vergroot.”

Oor sy ervarings op die program sê Nel: “Ek het wonderlike mense deur die program ontmoet en goeie vriendskappe gevorm. ’n Mens leer baie van jouself in die Kokkedoor-kombuis waar die druk hoog en die tyd min is. Ek is eintlik glad nie iemand vir kameras en baie praat nie, maar ek het die uitdaging onbeskryflik baie geniet. Daar is nie wegkruipplek in die kombuis nie – as jy iets brand of mors of flop is die kamera daar om jou verleentheid te deel.”

Vir Nel was die beste deel van die program die mense en die kos. “Dit is soos ’n stoompot vol verskillende idees, agtergronde, persoonlikhede en mense wat vir mekaar omgee. Die eindproduk is ’n resep van iets wat almal kan leer.”

Die laaste agt jaar was vir hom baie opwindend om saam met Fairview-landgoed te kon werk. Hul doel is om ’n ware weerspieëling van die plaas op die restaurante se borde te kan voorsit. Hy bestuur tans Fairview se Goatshed-restaurant en is ook betrokke by Backs Restaurant & Deli (Paarl) en Barley & Biltong Emporium op Spice Route Destination.

Hy is in dieselfde tyd getroud en het ’n tweejarige seuntjie. Sy vrou, Lisa, verwag nog ’n seuntjie.

“Kinders is ons toekoms en dit wek ’n groot verantwoordelikheid op ten opsigte van hoe ons in vandag se tyd kos moet benader,” sê Nel.

Hy voeg by hy voel volhoubare voedselproduksiemetodes, eetpatrone en restaurantspyskaarte speel ’n massiewe rol in wat ons kinders eendag gaan ervaar. “My gunstelingkos en -geregte om te maak is gesinskos of huiskos. Deesdae met ’n klein woelige seuntjie in die huis moet dit selfs lekker vinnig aanmekaar geslaan kan word.”VDie eerste episode van Kokkedoor 3 word Donderdag 18 Julie 20:00 op DStv se kykNET-kanaal 144 uitgesaai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.