Die skrywes in Eikestadnuus (30 Januarie) wat lesers se bedenkinge uitspreek oor die implementering van miniverkeersirkels verwys. Volgens die skrywers lei die gewraakte minisirkels tot verwarring, onsekerheid en selfs verdere verkeersvloeiprobleme.
Ek is onbewus van ’n regs-tegniese “definisie” van ’n miniverkeersirkel. My waarneming en ondervinding oor 40 jaar is soos volg: ’n Miniverkeersirkel is die beste vorm van interseksiebeheer en optimering van verkeersvloei waar daar fisiek nie plek vir ’n groter sirkel is nie, daar hoofsaaklik enkellaanpaaie aansluit en daar op verskillende tye van die dag verhoogde verkeersvloei uit verskillende rigtings is.
My ondersteuning aan die verkeersafdeling van die Stellenbosch-munisipaliteit vir die besluit om die korrekte gebruik van ’n minisirkel te bevorder en te implementeer.
Natuurlik sal daar aanvanklik onsekerheid wees, veral ná jare se verkeerde gebruik, maar namate ons almal ’n bietjie meer opgevoed raak en oplet na die duidelike verkeerstekens en padmerke, behoort die situasie te verbeter.
Lesers wat dit moeilik vind om te onderskei tussen die verskillende vorme van interseksiebeheer, raai ek aan om weg te bly uit ’n land soos Amerika, wat onder andere traffic circles, roundabouts, rotaries en neighbourhood traffic calming circles het – elk met sy eie kenmerke!
Leon Kemp,
stellenbosch