Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Padmakers tree bloot in eie belang op

Ek verwys die artikel in Eikestadnuusvan 20 Junie 2019.

Volgens die artikel steun die Tegnopark-gebruikers die oostelike verbypad en daar word redelik hooghartig gehandel met die belange van die inwoners wat geraak sal word.

Dit kom voor dat die artikel gemik is op ontwikkeling eerder as om die verkeersprobleem op te los. Inderwaarheid, in ’n persoonlike gesprek met die ingenieur wat die pad beplan het, is dit waarom die pad nodig is (in hul opinie).

Die verkeersprobleem sal inderdaad vererger namate die ontwikkeling toeneem. Die rede is voor die hand liggend – naamlik dat die dorp se sentrale gedeelte homself nie tot maklike, realistiese en werkbare aanpassing leen nie.

Die stelling dat die pad die verkeersvloei na die skole laat afneem, is ontbloot van enige bewese feite. Dit sal steeds die verkeersvloei na die skole en Piet Retiefstraat in stand hou. Van Rheedestraat naby aan die R44 kan ’n bietjie ontlaai word, maar gewis nie om die skole en in Piet Retiefstraat nie. Maar met die aansluiting by die R44 en die sinchronisering van die verkeersligte is die oggendprobleme reeds opvallend beter.

Ek let op dat die skrywer die belange van Krigeville klaarblyklik ignoreer. Die feit is dat hulle daagliks (in skoolkwartale) moet huishou met die verkeer en dat dit opvallend nie sal verbeter met die beoogde pad nie. Jammer dat die Tegnopark-bewoners hulself die klaarblyklike reg toeëien om eie belang bokant die belang van die huisbewoners (Brandwacht, Dalsig en Krigeville) te plaas.

In die berig word oppervlakkig verwys na moontlike aansluiting by die Landbousaal. In gesprekke met die ingenieur is daar – glo dit as u wil – die moontlikheid van ’n aansluiting langs Paul Roos of Piet Retief genoem! Die opvallende gebrek aan ’n sinvolle en werkbare aansluiting is een van die olifante in die kamer wat geïgnoreer word.

Ek is besonder onthuts oor die stelling “… kritieke korttermynoplossing …”. As dit patent korttermyn gaan wees, hoe sal die Tegnopark-bewoners dit regverdig om die belastingbetaler se geld op ’n “korttermynoplossing” te mors?

Maar, om te herhaal, dit sal nie ’n oplossing wees vir verkeersprobleme nie, dit sal net ontwikkeling (klaarblyklik) vergemaklik. ’n Mens kan ook nie anders nie as om te wonder hoe dit Tegnopark sal bevoordeel, want die verkeersvloei van en na Tegnopark in en uit Stellenbosch is grotendeels teen die verkeer.

Wat die bestaande huiseienaars se belange vis a vis die pad aanbetref: soos die Tegnopark-bewoners dit voorstaan, kan ek u verseker baie huisbewoners voel anders.

Die voorstanders van die pad sal gedaag word om feite, eerder as onbewese droombeelde en bevordering van eie belang, te verduidelik.

Die huisbewoners sal u teenstaan.

Huiseienaar,
Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.